Politieke ontleder verklaar radikale ekonomiese transformasie as ʼn plundermeganisme

Dit is maklik vir die ontwerpers en toepassers van radikale ekonomiese transformasie (RET) om kritiek daarop uit wit geledere af te skiet. Koppel dit net aan ʼn begeerte om wit bevoorregting en oorheersing in stand te hou (ongeag of hierdie drang werklik by die kritici bestaan), voeg ʼn uitdruklike of sydelingse beskuldiging daarby oor rassisme, en die debat is basies reeds deur emosies en oorvereenvoudigde argumente gewen.

Dit is om hierdie redes dat die meeste wit mense stilbly oor skadelike beleide met oënskynlik goeie bedoelinge, soos in die geval van RET.  As die sosiale media en die hoofstroommedia enige aanduiding is, steun baie swart meningsvormers en gewone swart mense dit uiteraard en hulle het sekerlik geldige redes daarvoor. Selfs die ANC en pres. Jacob Zuma se swart kritici tel hul woorde oor radikale ekonomiese transformasie omdat dit kwansuis goeie bedoelinge het en sulke kritiek hulle ongevoelig kan laat lyk. Hulle kritiseer die korrupsie en selfverryking, maar tref nie dikwels ʼn verband tussen RET en hierdie praktyke nie. Min mense kyk daarom krities na die werklike inhoud van RET en hoe dit, as leidster vir die ANC, die land werklik dien. Wie kan en wil nou stry dat meer swart mense ekonomies bemagtig word? Daarom is daar baie heilige (en verbeelde) koeie rondom RET wat nie geslag word nie en RET se utopiese maar onhaalbare visie lyk realisties en voordelig omdat ʼn verduideliking van die middele en uitwerking daarvan – wat grootliks op herverdeling en kornuit-kapitalisme neerkom – eerder as net die verklaarde bedoelinge, dikwels ontbreek.

Die politieke ontleder Prince Mashele is nie bekend vir sy liefde vir Zuma en die ANC nie, maar word ook vir sy skerpsinnigheid en objektiwiteit bewonder. Dit was daarom heel gepas dat hy by ʼn landbouskou ʼn hele paar van hierdie heilige koeie deur sy onverbloemde kritiek geslag het. “Hierdie ding genaamd radikale ekonomiese transformasie is ʼn plundermeganisme. Punt,” het hy luidens News24 by die Nampo-oesdag gesê. “Jacob Zuma het twee jaar oor as president van Suid-Afrika en wat gaan hy in daardie twee jaar doen? Hy gaan beslis nie enige radikale ekonomiese transformasie in werking stel nie.”

Dan lei hy nog ʼn paar heilige koeie na Nampo se slagpale. Volgens Mashele kan ekonomiese transformasie nie binne ses maande of selfs twee jaar bereik word nie. ʼn Rasionele plan moet jare lank konsekwent toegepas word en hy benadruk dat onderwys die sleutel is. “Swart mense moet opgelei word. Hoe gaan jy die lewe van ʼn onopgevoede swart persoon radikaal verander? As jy swart, sonder vaardighede en 25 jaar oud is, het jy reeds die trein verpas en Zuma kan sing oor ekonomiese transformasie soveel soos hy wil. Niemand gaan jou in diens neem nie,” het hy tydens ʼn paneelbespreking gesê.

Prince was egter steeds nie klaar nie en het ʼn pleidooi gelewer dat mense politici wat met radikale ekonomiese transformasie te koop loop, moet uitdaag. “Ons moet fokus op die regte manier om die samelewing te verander en ons moet seker maak dat jongmense die beste moontlike vaardighede verwerf en onderrig ontvang sodat hulle bruikbaar in die ekonomie kan wees. Dít is radikale ekonomiese transformasie oor ʼn lang tydperk, nie oor twee jaar voordat Zuma loop nie,” het hy gesê.

Dit is snydende kritiek deur ʼn swart ontleder op ʼn apokriewe beleid wat klakkeloos deur politici en meningsvormers goedgepraat en selfs bevorder word. Verskeie Afrikaleiers het sedert dekolonisasie eenderse utopiese planne aan hul arm en desperate bevolkings verkondig en dit gelyktydig as ʼn rookskerm gebruik om die staatskas na hartelus te plunder. Dit is presies wat Zuma en sy kornuite onder die vaandel van RET met Suid-Afrika probeer doen. As ons Mashele se raad moet volg, moet mense soos adjunkpresident Cyril Ramaphosa, wat tewens RET luidkeels verkondig, ook voor stok gekry word.

Die ANC probeer al sedert 1994 om ekonomiese transformasie teweeg te bring en toe dit weens hul eie toedoen nie wou werk nie, toe word dit skielik ʼn “radikale” kwessie. Mashele het op luisterryke wyse korte mette gemaak met die mite dat ekonomiese transformasie gou kan gebeur. In Zuma se agt jaar het dieselfde beleide juis die teenoorgestelde opgelewer. Tensy jy ʼn bolsjewistiese rewolusie in gedagte het – en dit sou katastrofaal wees – is ware en volhoubare ekonomiese transformasie, oftewel inklusiewe groei, ʼn tydsame proses wat baie anders as die ANC se huidige planne lyk.

Bron: Solidariteit


Enjoyed this post? Share it!