Poppie se broer, halfsussie glo ook aangerand

Kobus en Louisa Koekemoer in die hof (28 Maart 2017). Foto: Verskaf

Louisa en Kobus Koekemoer, Poppie se ma en stiefpa, word daarvan beskuldig dat hulle nie net vir Poppie se dood verantwoordelik was nie, maar ook haar vyfjarige broer en 15-jarige halfsuster aangerand het.

Die Koekemoer-egpaar het Dinsdag in die Brits-landdroshof verskyn, waar die saak na die hooggeregshof in Pretoria oorgeplaas is vir verhoor. Die saak sal van 30 Oktober tot 10 November aangehoor word.

Adrian Nell, Louisa se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media bevestig Louisa en Kobus sal op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling tereg staan.

Die staat beweer die egpaar het Poppie, haar broer en haar halfsuster aangerand toe die gesin in Orania, Hopetown en Brits gebly het. Die staat het Dinsdag versoek dat die aanklagte, wat oor verskillende jurisdiksies strek, gesentraliseer word om saam verhoor te word.

Maroela Media het voorheen berig ʼn buurman van die Koekemoers in Orania het in Augustus 2016 in ʼn polisieverklaring aangevoer daar was gereeld ʼn bakleiery by die Koekemoers se huis. Hy het gedink die kinders is onnodig gedissiplineer. “Die aantal houe vir kinders van daardie ouderdom was onvanpas,” het hy in die verklaring geskryf. Hy het ook ander bewerings van mishandeling gemaak.

Die name van Poppie se broer en suster kan nie bekend gemaak word nie, aangesien hulle minderjarig en haar broer in ʼn plek van veiligheid is.

Poppie is op 25 Oktober verlede jaar na ʼn hospitaal in Brits gehaas, nadat sy vermoedelik aangerand is. Die Koekemoer-egpaar het toe reeds van Orania na ʼn kleinhoewe in Mamogaleskraal naby Brits verhuis. Poppie is kort ná haar aankoms by die hospitaal dood verklaar. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem. Louisa is op 15 Desember in verband met die moord in hegtenis geneem.

Albei beskuldigdes se borgtogaansoeke is geweier. Nell het egter Dinsdag gesê Louisa wil steeds teen haar borgtoguitspraak appelleer en hierdie appèl sal hopelik binnekort aangehoor word.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

Enjoyed this post? Share it!