Potch – die riool loop in die strate, en wie se geld gaan in die drein in ???

Die belastingbetalersgeld wat aangewend is om die ingang van Esslinstraat in Potchefstroom te teer is besig om letterlik in ʼn rioolgat weg te spoel, het Vincent Clark, VF Plus-raadslid in die Tlokwe-plaaslike munisipaliteit gesê.

“Die ingang na Esslinstraat is enkele maande gelede opgeknap en oor geteer, maar is weer besig om te verval as gevolg van ʼn reuse slaggat wat ontstaan het en nou merendeels deur rioolwater wat uit die nabygeleë openbare badkamers stroom bedek word.

“Motoriste is nie bewus van die slaggat nie, veral omdat ʼn mens nie ʼn slaggat in ʼn nuutgeteerde pad verwag nie. Dit berokken nie net skade aan motors nie, maar verniel ook die pad verder.”

Volgens Clark is miljoene rande van belastingbetalers se geld bestee om die ingang na Esslinstraat, sowel as ander opgraderings aan onder andere die kragstasie en parkeerterrein daar aan te bring, maar gaan alles nou tot niet as gevolg van ʼn gebrek aan behoorlike bestuur en instandhouding deur die munisipaliteit.


Enjoyed this post? Share it!