Prasa, Passasiers Wederregtelik Vervoer

Prasa, Passasiers Wederregtelik Vervoer
Prasa Trein-botsing-300x225
.
KIMBERLEY – Prasa is dieper in die sop ná onthullings dat sy nuwe, omstrede Afro 4000-lokomotiewe nie in die toetsfase betalende passasiers mag vervoer nie.
Die Prasa-lokomotief wat Dinsdag by Modderrivier in Noord-Transvaal ontspoor het, het die Shosholoza Meyl-passasierstrein met betalende passasiers aan boord gesleep. Daar was internasionale en plaaslike toeriste op die trein. Kragtens die Spoorveiligheidsreguleerder (SVR) se klaringsertifikaat mag net tegniese personeellede in die toetsfase op die trein wees. Die nuwe lokomotief, wat net 2 640 km op sy odometer het, is in die ongeluk erg beskadig en etlike waens het ontspoor. Spoorstawe is gebuig en oorhoofse kabels uitgeruk.
Transnet-personeellede het Donderdag die ontspoorde lokomotief en waens van die spoorlyn gehaal sodat die spoorstawe en oorhoofse kabels vervang kan word. Altesaam 103 passasiers is vir waarneming na die hospitaal gebring. Sewe passasiers is beseer, asook die assistent-masjinis, wat rug- en hoofbeserings opgedoen het.
Volgens Babalwa Mpendu, bestuurder, senior openbare betrekkinge van die SVR, is die Afro 4000-lokomotiewe net goedgekeur om glo in die toetstydperk met ’n “geen beswaar”-klaringsertifikaat op Prasa-roetes te ry. Daar mag glo geen betalende passasiers aan boord gewees het nie. Net nie-betalende mense soos tegniese personeellede wat by die toets- en indienstellingsfase betrokke is, mag in die lokomotief en treinwaens ry. Die “geen beswaar”-klaringsertifkaat gee aan Prasa toestemming om die lokomotief op verskillende roetes, waarvoor Prasa kragtens ’n permit toestemming het, in werklike werkverrigtingtoestande te toets. Die sertifikaat is in Februarie vanjaar uitgereik. Die verslae moet einde Augustus ingedien word. Wanneer die SVR die verslae nagegaan het, sal die SVR binne 30 dae kommentaar aan Prasa lewer.
Die uitslae sal bepaal glo of die toets en indiensstellingfase verleng moet word en of die vloot lokomotiewe ten volle in diens gestel kan word. Hy het gesê dat sou die voorwaardes van die toetsfase oortree word, kan die klaringsertifikaat onttrek word totdat regstellende stappe gedoen is – Netwerk 24
Treinwaens en -wiele lê Woensdag langs die treinspoor sowat 35 km suid van Kimberley.

Enjoyed this post? Share it!