Pravin Gordhan funksie word ontsier met ontlasting

Die ANC-Jeugliga in KwaDukuza veroordeel die beweerde neergooi van ontlasting, vermoedelik deur sommige van sy lede, Sondag by ’n geselligheid wat deur die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, bygewoon is en waar hy ook ’n toespraak gelewer het.

“Ek weet niks van dit nie. Ons het nooit tot so-iets ooreengekom nie,” sê Musa Zondi, sekretaris vir die liga in KwaDukuza.

“Ons veroordeel dit regtig,” het hy gesê.

The Mercury het berig dat ’n groep betogers Sondag ontlasting by die ingang van die Siva Sungum-saal in Stanger gegooi het, terwyl Gordhan daar was.

Mfanafuthi Ngcobo, die liga se streeksvoorsitter vir die groter KwaDukuza, het aan News24 gesê hy is dringend na buite geroep om met ’n onderbreking te gaan help. Toe hy daar aankom, het hy ’n klomp mense aangetref wat kwaad was en wat betoog het teen die oprigting van ’n winkelsentrum in die omgewing.

Hy kon nie die ontlasting-voorval bevestig nie en het ook gesê dat die ANC-Jeugliga nie by die voorval betrokke was nie.

Hy het gesê die omstandighede was vyandig toe hy daar aangekom het.

Hy verstaan nadat hy met die betogers gepraat het dat Gordhan ’n geldinsamelingsgeleentheid toegespreek het wat ondersteuning bied aan inwoners wat ontevrede is oor die ontwikkelaars wat ’n winkelsentrum op ’n leë erf in die gemeenskap wil oprig.

Sommige inwoners het gevoel dat hulle weggelaat is uit die winkelsentrumprojek en dat hulle deel van enige geleentheid wil wees wat mag voorkom om toegang tot werkgeleenthede te kan kry of om winkels te kan hê.

Hy het gesê die omstandighede het uiteindelik gekalmeer.

Kommentaar van Gordhan, of die organiseerders, was nie onmiddellik beskikbaar nie.

Gordhan en sy adjunk, Mcebisi Jonas, is vroeër vanjaar in ’n opspraakwekkende herskuiwing van die kabinetslede deur pres. Jacob Zuma, die staatshoof, afgedank.

Die ANC-Jeugliga het op verskeie geleenthede gesê hulle is ontevrede oor die kritiek wat Gordhan oor die regering uitspreek.


Enjoyed this post? Share it!