Presidensie slaan vure dood na DA banke waarsku teen SAL

Geen besluit is geneem om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) uit die beheer van die nasionale tesourie terug te skuif na die departement van vervoer nie.

Die presidensie het Sondagmiddag dié versekering in ’n verklaring gegee enkele ure nadat die DA Suid-Afrika se banke aangemoedig het om nie toe te laat dat die SAL weereens Dudu Myeni se “speelding” word nie.

Sunday Times het vroeër berig dat Myeni, voormalige SAL-direksievoorsitter, deur Joe Maswanganyi, minister van vervoer, as ’n spesiale raadgewer aangestel is. Luidens die berig oorweeg die regering glo ook om die SAL weer na die departement van vervoer te skuif.

Dr. Bongani Ngqulunga, presidensiële woordvoerder, het egter in ’n kort verklaring gesê terwyl daar baie menings is oor die plasing van sekere staatsentiteite terwyl die regering maniere vind om die prestasie van dié entiteite te verbeter, kom dit nie neer op ’n besluit nie.

“Die SAL bly in die nasionale tesourie geleë waar dit sal voortgaan om ondersteuning en leiding te ontvang terwyl die entiteit homself herbou ná die aanstel van ’n nuwe direksie en uitvoerende hoof.”

Alf Lees, DA-LP, het Sondagoggend gesê die DA sal aan alle Suid-Afrikaanse banke skryf aan wie altesaam R13,8 miljard geskuld word.

Die party sal versoek dat die banke vir Malusi Gigaba, minister van finansies, inlig dat hulle dadelik hul lenings aan die SAL sal terugtrek “sou die voorstel om die SAL van die nasionale tesourie te skuif in werking gestel word en as daar enige druk op die SAL-direksie geplaas word om die lugdiens as enigiets anders as ’n kommersiële onderneming te bestuur.”

Hy het gesê gegewe die “gemors” wat die SAL onder Myeni geword het, moet sy sekerlik onder die mees onvanpaste mense tel om aangestel te word as ’n lugdiensadviseur.

In sy ope brief aan die banke wys Lees daarop dat die regering se reddingsboeie aan die SAL vir die 2017-’18 boekjaar alleen R10 miljard beloop het.

“Die uitwerking van dié reddingsboeie op arm Suid-Afrikaners is immoreel sowel as massief.”

As dié geld beskikbaar was vir dienste en geleenthede aan armes sou dit volgens Lees die volgende kon finansier het:

* 83 333 bykomende driejaar- voorgraadse beurse;

* 166 667 bykomende behuisingseenhede;

* 571 nuwe skole; en

* 102 467 bykomende verpleegsters.

Myeni, ’n vertroueling van pres. Jacob Zuma, se nuwe amp gaan glo gepaard met ’n salaris van R1,2 miljoen per jaar. Sy is in Oktober onder ’n wolk weg as voorsitter van die SAL direksie en is deur JB Magwaza vervang.


Enjoyed this post? Share it!