‘Prokureur’ het glo nog nie ten volle vir haar saak voorberei nie

Brenda Wardle. Via ANA

Brenda Wardle, wat haarself na bewering as ʼn prokureur voorgedoen en jare lank regsanalise aan die media verskaf het, het Maandag weer in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth verskyn en laat hoor sy is nog nie gereed om met die verhoor voort te gaan nie.

Sy hanteer haar eie verdediging.

Maroela Media het vroeër berig sy het tydens haar vorige hofverskyning kwessies oor haar gesondheid aangehaal en gesê sy het nie die regte medikasie ontvang terwyl sy in aanhouding was nie. Dié kwessie is intussen reggestel.

Sy het aangevoer sy is geregtig op ʼn enkelsel, sodat haar omgewing gunstig sou wees vir haar om vir die hofsaak voor te berei. “Ek het ʼn brief aan die staat geskryf en ek gaan dit in ʼn semi-dringende aansoek daag; ek is geregtig op ʼn enkelsel. Ek ken die minister van korrektiewe dienste persoonlik,” het Wardle gesê.

Sy het tydens die paralimpiese atleet Oscar Pistorius se moordsaak bekendheid verwerf toe die SAUK (SABC) en die BBC in daardie stadium met haar onderhoude gevoer het as ʼn regsanalis. Sy het ook ʼn boek gepubliseer met die titel To Kill a Fragile Rose: The State’s Case Against Oscar Leonard Carl Pistorius.

Die 56-jarige word daarvan beskuldig dat sy voorgegee het om ʼn prokureur te wees en dat sy “dienste” aan ʼn veroordeelde moordenaar verskaf het.

Die staat voer aan Wardle het tussen April 2009 en Augustus 2013 ʼn bedrag van R538 766 ontvang om Stephanus van Aardt by te staan toe hy versoek het om vroeër op parool vrygelaat te word. Die staat voer aan Wardle het voorgegee om ʼn prokureur te wees, maar sy het versuim om ʼn aansoek vir Van Aardt se vroeë vrylating in te dien.

Van Aardt, ʼn melkboer van Somerset-Oos, is in 2007 skuldig bevind op aanklag van moord, en tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die aanranding en moord op die 15-jarige Eliot Magabane.

Wardle is in Junie in Oos-Londen in hegtenis geneem nadat sy die hof vir meer as ʼn jaar lank ontduik het. Haar aansoek om borgtog is verlede maand afgekeur.

Die saak is tot 26 September uitgestel.

Enjoyed this post? Share it!