Publieke voertuie blokkeer motoris wat probeer wegkom na hy ‘n ernstige ongeluk veroorsaak

Dit was soos ’n moderne weergawe van twee Middeleeuse ridders wat onverskrokke met hul wit rytuie vol perdekrag verby alle hindernisse snel om ’n skuldige aan te keer.

Stehan Cloete met sy wit Volkswagen Amarok en die man met die wit BMW ken mekaar van geen Adamskant af nie.
Dis net asof albei dieselfde gedagte gehad het toe ’n donker Ford voor hul oë ’n ongeluk op die snelweg veroorsaak en doodluiters wegry: Stop hom.

“Hy kan mos nie net wegkom nie. Dis mos nie reg nie. Die mense in die bakkie kon dood gewees het, met familie wat tuis vir hulle wag,” het Cloete sy optrede verduidelik.

Die ongeluk het Dinsdagmiddag op die N1-snelweg noord tussen Johannesburg en Centurion gebeur.
Iemand het dit met ’n paneelbordkamera afgeneem en Elanie Beckett het dit op haar Facebookblad gedeel.

Sy het by die video geskryf: “Ten spyte van die tragedie van hierdie totale onnodige en dom motorongeluk, moet ek sê WOW, hoed af vir die ander bestuurders wat die inisiatief geneem het en die skuldige gedwing het om af te trek.

“Kan jy GLO dat hy wragtag probeer wegry het nadat hy ’n ongeluk wat redelik ernstig lyk, veroorsaak het?
“Knap gedaan mede-Suid-Afrikaners dat julle nie toegelaat het dat dié a**h*le wegkom nie.”

Cloete vertel hy het reeds net ná die Olifantsfontein-afrit die donker Ford gesien.
’n Ent verder het die Ford oor bane begin swaai.

“Dit het gelyk of die bestuurder in ’n ander wêreld is. Hy sou reguit op karre afry of skielik rem trap of tussen hulle indruk.”

Die Ford het egter nie gejaag nie, en volgens Cloete teen ’n normale spoed gery. Op die video kan gesien word dat hy sy flikkerlig aansit toe hy bane verwissel.

Dan sê ’n manstem vanuit die motor met die kamera: “Check! Check! Check!”

Die Ford tref ’n bakkie van agteraf. Die bakkie swaai 90° en tref die betonmuurtjie tussen die twee dele van die snelweg voluit met sy neus.

Tussen wrakstukke en rook deur tol die bakkie tot op sy dak en gly onderstebo terug oor die pad.
“Die ou wat die video geneem het – ek het nooit sy naam gevra nie – het gesê dit het gelyk of die Ford tot agter die bakkie gery het, toe sommer net versnel het,” het Cloete gesê.

Die video toon hoe die Ford, wat nou weens die impak dwars oor die pad staan, effens terugbeweeg, vriendelik met sy hand vir die motor agter hom beduie en dan regs om die wrak van die bakkie ry – en aanhou ry.

Die voertuig met die kamera toet vir die Ford, dan sê die bestuurder: “Stop him! Stop him!”

Links om die omgekeerde bakkie kom daar skielik ’n wit BMW en die Amarok op sy hakke. Die BMW swaai voor die Ford in en die Amarok blokkeer die verdagte voertuig van links teen die betonmuurtjie vas.

Die voertuig met die paneelbordkamera dek die agterhoede.

“Dit was seker instink. Ek het die ongeluk gesien, die bakkie op sy dak was voor my. En die Ford het aanhou ry.
“Daar was by my geen opsies nie. Ek het om die omgekeerde bakkie gery en in my kop gesien hoe druk ek die Ford met my Amarok teen die muurtjie vas.

“Gelukkig het die BMW voor hom ingery, asof ons albei dieselfde plan gehad het,” het Cloete gesê.

Met die aankeerslag het Cloete aan die Ford-bestuurder beduie dat hy sy motor moet afsluit.

“Hy het nie deurmekaar gelyk nie. Hy het nie na drank geruik nie en hy het normaal gepraat. Hy het eerder gelyk of hy nie weet hoekom ons hom afgetrek het nie,” het Cloete gesê.

Die Ford-bestuurder het teruggestap na die ongelukstoneel, dit bekyk en toe terug na die Ford geloop.

“En toe klim hy in en sit die kar weer aan! Ek het nader gehardloop en sy sleutel uitgepluk. Toe vra die man hoekom vat ek sy sleutel.”

Cloete het verbaas na die ongeluk verwys.

“Toe sê die man: ‘Boet, wát het ek veroorsaak?’. Dit was die vreemdste ding,” het Cloete gesê.
Die Tshwane-metropolisie en nooddienste was gou op die toneel.

Die insittendes van die bakkie is gelukkig nie ernstig beseer nie.
Dit is nog nie bekend wat verder met die Ford-bestuurder gebeur het nie.

Deur: Hanti Otto/Netwerk24


 

 

Enjoyed this post? Share it!