R2 miljoen per maand vir straler vir JZ

Huurvliegtuig meer as die helfte van sy betaalde ure op die grond, Inkwazi ledig

Die lugmag betaal reeds die afgelope twee maande R1,98 miljoen per maand vir ’n BBP-huurvliegtuig terwyl Inkwazi, die presidensiële straler, 100% diensbaar en ongebruik staan.

Sedert Inkwazi einde Mei in Doha, Katar, weens ’n brandstofprobleem veroorsaak het dat pres. Jacob Zuma met ’n alternatiewe vliegtuig na SuidAfrika moes terugkeer, het Zuma nog nie weer daarin gevlieg nie.

Die presidensie het vroeër ontken dat Zuma verseg om sy voete in die straler te sit. Dr. Bongani Ngqulunga, Zuma se woordvoerder, het gesê die president het bloot aangedring op ’n vliegtuig wat hom nie weer in die steek gaan laat nie.

Die huurstraler van die Paramountfiliaal, Fortune Air, ’n Boeing 727, wat meer as ’n dekade ouer as Inkwazi is, Inkwazi, die ledige presidensiële straler. word nou ingevolge die staatskontrak RT-61 teen ’n tarief van R66 000 per uur gehuur. Die vliegtuig is gekontrakteer vir 30 ure per maand – of dié ure gebruik word of nie.

Sedertdien het die vliegtuig tussen tien en 15 ure per maand gevlieg, wat beteken dit staan vir die helfte van die betaalde ure op die grond.

Wanneer dié vliegtuig se bemanning nie beskikbaar is nie, gebruik Zuma die nóg ouer en veel kleiner Falcon 50 van die lugmag. Dit het nou reeds herhaaldelik gebeur dat die vliegtuig te klein is vir al die bagasie wat Zuma met hom saamneem.

Inkwazi se toekoms is intussen duister. 21 Eskader, die lugmag se BBP-eskader, gebruik dit tans vir opleiding van vlieëniers en van kajuitbemanning. Adj.pres. Cyril Ramaphosa verkies ook die kleiner Falcon 50 en as hy oorsee vlieg, vlieg hy kommersieel.

’n Ondersoek na allerlei probleme, waaronder verkwisting, is juis tans by 21 Eskader onderweg.

Rapport verneem betroubaar dat verskeie senior offisiere nou reeds uit hul poste geskuif is weens hul beweerde betrokkenheid by die vrugtelose besteding van meer as R6,5 miljoen in Mei verlede jaar toe Inkwazi in Rusland vir Zuma gestrand gelaat het.

Die lugmag het aanvanklik ’n Boeing Business Jet (BBJ) soortgelyk aan Inkwazi van Longtail Aviation, wat in die Bahamas geregistreer is, gehuur om hom terug te bring. Die Russiese regering was nie geneë om ’n vliegtuig van die Bahamas in sy lugruim te hê nie. Toe het die Russiese regering in oorleg met die Suid-Afrikaanse ambassade in Moskou die lugmag laat weet hulle neem die vlugreëlings oor.

Só is die tweede huurstraler, ’n Challenger 605, van Hyperion Aviation gehuur.

Intussen skarrel Krygkor en die lugmag se topbestuur steeds om ’n geskikte huurvliegtuig vir ’n jaartermyn vir Zuma te huur. Die vorige kandidate het volgens Lulu Mzili van Krygkor nie aan die lugmag se kriteria voldoen nie.

’n Nuwe projekspan is ook aangestel, maar volgens Mzili is ’n datum nog nie bepaal waarop die volgende versoek vir moontlike vliegtuie gepubliseer gaan word nie.

Die oorspronklike vereistes word blykbaar tans gewysig om nie meer 20 passasiers te kan vervoer nie, maar 15.

Die kandidate sal ook toegelaat word om minstens een keer brandstof in te neem, pleks van die vorige vereiste dat dit sonder om te land transkontinentaal moet kan vlieg.

Lt.genl. Zakes Msimang, lugmaghoof, het in reaksie gesê die beplanning en ondersoeke rondom BBP-lugvervoer is ’n operasionele en interne aangeleentheid wat vertroulik is.

Bron: Rapport


 

Enjoyed this post? Share it!