R50 000 beloning om vermiste Gerrie Kachelhoffer op te spoor

Boukontrakteur van Pta in Limpopo vermis

Die polisie het met ’n reusesoektog na ’n vermiste boukontrakteur van Pretoria begin nadat hy Maandag in Limpopo vermis geraak het.

Gerrie Kachelhoffer (41) van Silverton is Maandag omstreeks 12:00 laas gesien toe hy werkers by ’n Engen-vulstasie in Lebowakgomo, sowat 30 km buite Polokwane, afgelaai het.

Kachelhoffer het vir sy werkers gesê hy gaan boumateriaal koop. Hy werk by Monwana Construction & Installations wat kontrakwerk vir Engen doen.

Deon Greyling, sy swaer, sê sy wit Toyota Raider-enkelkajuitbakkie is Maandagmiddag verlate in Chuenespoort gekry.

“Die sleutel was nog in die aansitter en sy selfoon was ook in die bakkie.”

Kachelhoffer se beursie met R4 000 daarin wat hy in Pretoria uit die sake-onderneming se kleinkas gevat het om boumateriaal te koop, is weg.

Hy vat glo gereeld kontant uit die kleinkas om te betaal vir boumateriaal omdat daar nie altyd kitsbanke in die afgeleë gebiede is waar hy werk nie.

“Hy ry altyd met ’n Bybel saam met hom en die Bybel is ook weg,” sê Greyling.

Volgens hom het die werkers Maandagmiddag omstreeks 17:00 na die kantoor gebel en gesê hy het nie teruggekom nadat hy boumateriaal sou gaan koop het nie.

Die polisie is dadelik in kennis gestel.

Greyling sê sy swaer se bakkie is sowat 10 km verder verlate in die bergagtige Chuenespoort gekry.

Volgens hom wys die Netstar-opsporingstoestel dat die bakkie om 12:30 vir twee minute stilgehou het. “Dit is vreemd. Daar is nie tekens van ’n struweling nie. Ons vermoed hy is dalk oorval en met ’n vuurwapen gedreig.”

Kol. Ronél Otto, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die polisie se soek-en-reddingspanne en die polisie se honde-eenheid fynkam die onherbergsame gebied.

Greyling soek saam met die polisie na sy swaer. “Ons het al oral deur die bosse geloop, maar ons kry nie ’n spoor van hom nie.”

Verskeie Facebook-groepe versprei ’n foto en inligting van Kachelhoffer om hom te help opspoor.
Kachelhoffer is 1,9 m lank en het blonde hare. Hy het ’n blou oorpak met wit glimstrepe op aangehad toe hy laas gesien is.

Sy vrou, Yvonne, en twee tienerdogters, Su-marie en Annerie, is erg bekommerd oor hom.

Die familie het ’n beloning van R50 000 aangebied vir inligting wat kan lei tot sy opsporing.

Bron: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!