Raai water stad is as die vuilste hoofstad in SA aangewys

Mafikeng, die hoofstad van Noordwes, is die vuilste hoofstad in Suid-Afrika.

Só sê Hannes Schutte, VF Plus-LPW in die Noordwes-wetgewer, ná die wetgewer se openbarerekeninge-komitee en die ouditeur-generaal saam met die Mafikengmunisipaliteit se stadsraad vergader het.

Gedurende dié vergadering het die ouditeur-generaal onder meer foto’s voorgelê waarop gesien kan word hoe rou riool op verskeie plekke in die stad en selfs tot in die Moloporivier loop.

Van die foto’s bevat ook bewyse van rou riool wat al sedert Februarie 2017 voor ʼn skool verbyvloei en ʼn ernstige gesondheidsrisiko vir van die kwesbaarste lede van die gemeenskap, naamlik kinders, inhou.

Rommel word op openbare terreine gestort, aan die brand gesteek of deur diere gevreet. Dit stink en besoedel die atmosfeer, en is boonop byna oral te sien. Volgens Schutte is rommel en riool egter nie die enigste probleme wat deur die Mafikeng-munisipaliteit ondervind word nie.

Volgens die OG se verslag is daar geen interne beheermaatreëls vir die behoorlike bestuur van die munisipaliteit nie, nog minder vir die beplanning, bestuur en onderhoud van die munisipaliteit se infrastruktuur, soos onder meer rioolstelsels. Verliese aan water en elektrisiteit vier maandeliks hoogty.

“Die stad Mafikeng word al vir 20 jaar deur die ANC-regering bestuur en hulle kon kwalik meer regkry as om dit in ʼn stinkende ashoop ter aanklag van hulle onvermoë te verander,” het Schutte gesê.

Bron: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!