Rand onder druk – Zuma wil klasgelde betaal

Die ANC-staatshoof, Jacob Zuma, weier steeds om die verslag van die Heher-kommissie oor gratis studente onderrig vry te stel. Dit wil trouens voorkom of net drie mense die verslag in hulle besit het, waaronder die 28-jarige aanstaande skoonseun van Zuma. Die betrokke minister het steeds nie die verslag nie.

Dele van die verslag wat vroeër uitgelek het, het dit onomwonde gestel dat gratis onderrig vir studente onhaalbaar is.

Ten spyte daarvan is Zuma en sy aanstaande skoonseun skynbaar van plan om wel toe te gee aan die dikwels gewelddadige “feesmustfall”-verldtog en daarmee voort te gaan, al sou dit net vir ‘n jaar wees, sodat Zuma daardeur verlore persoonlike aansien kan probeer herstel onder die jeug.

Om dit te kan doen, is egter baie geld nodig, en Zuma het skynbaar reeds groot toewysings aan bepaalde departemente en projekte begin snoei om vir die studiegeld te betaal. Een van die sake waaraan daar ernstig besnoei gaan word, is infrastruktuur, wat beteken dat die land se dikwels reeds beroerde paaie, veral op die platteland, nog meer afgeskeep en onrybaar gaan word.

Die rand was weer erg onder druk nadat Zuma se plan vir gratis onderwys bekend geword het.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!