Rasse haat word aangewakker deur SABC sepie Isidingo

Ontstelde televisie kykers het klagtes by die Uitsaaiklagtekommissie (UKKSA) ingedien nadat ’n episode van die SABC3-sepie Isidingo uitgesaai is waarin wit Afrikaanse mans die karakter Sechaba Moloi-Matabane ’n bobbejaan noem, aanval, en later lewend begrawe.

Die episode is verlede Woensdag uitgesaai.

Vroeër in die episode besoek Moloi Matabane (vertolk deur Motlatse Mafatshe) sy pa se graf en word hy gekonfronteer deur die twee mans wat sê dat hy op Le Roux en Struben se eiendom oortree. Die wit karakters maak dan bobbejaangeluide na en noem hom ’n “ ’n BEE bobbejaan wat op blêrrie korrupsie oorleef”.

Die sepie is in sosiale media oor die kole gehaal oor die storielyn. Sommige kykers het gesê hulle gaan nie meer Isidingo kyk ná die episode nie, terwyl ander kykers die vervaardigers en skrywers geprys het vir die dapper storielyn wat nie wegskram daarvan om die kwessie van rassisme te takel nie.

DIE KARAKTER MOET IN DIE VOLGENDE EPISODES BESLUIT WAT HY GAAN DOEN NÁ DIE VOORVAL. HY BEPLAN NOU HOE HY DIE PAD VORENTOE GAAN AANDURF.

Volgens Sumaya Petersen Mogola, woordvoerder van die sepie, is dit ’n sepie wat “grense moet oorskry” en “kwessies aanpak”.
“Rassisme is iets wat Suid-Afrikaners daagliks konfronteer. Soveel soos wat ons dit agter ons probeer sit, vind hierdie gevalle gereeld plaas en dit is die soort kwessies wat ons moet aanpak,” sê Petersen Mogola.

“Talle van ons kykers het ons op sosiale media platforms uitgejou oor die voorval, maar van hulle het dit ook as positief manier van die kwessie van rassisme aanpak, beskou.”

Prof. Herman Wasserman, hoof van die Universiteit van Kaapstad se rolprent-en-mediadepartement, sê vervaardigers moet lig loop om nie rassistiese geweld bloot vir skokwaarde te gebruik nie.
“Die belangrikste is dat daar wel ’n soort storielyn is wat konteks bied vir die voorval dat dit self ’n katarsis kan bied en konstruktiewe gesprek kan lok,” sê hy.

Petersen Mogola sê die omstrede storielyn sal in die volgende weke se episodes hervat word, maar met ’n baie meer gematige aanslag.
“Die karakter moet in die volgende episodes besluit wat hy gaan doen ná die voorval. Hy beplan nou hoe hy die pad vorentoe gaan aandurf.”

Sy het ook bevestig dat na aanleiding van die reaksie op sosiale media sal hulle aangaan met die oorspronklike storielyn en dat niks gevolglik aangepas is nie.

Wasserman sê ook dat die sepie ’n fiktiewe uitbeelding is wat ’n gemoed weerspieël wat bestaan.
“Afrikaners wat ontsteld is daaroor moet hul hand in eie boesem steek en vra hoekom dit bestaan en hoe kan ons dit reg maak,” sê hy.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, sê hulle het klagtes van hul lede oor die episode ontvang en is besig met ’n ondersoek daarna.
“Ons het gesien mense is baie ontsteld oor die episode. Baie mense voel dat dit baie stereotiperend of rassisties is, en dat dit wit mense in ’n baie slegte lig stel,” sê Roets.


 

Enjoyed this post? Share it!

 
  • Cilla Neill

    Kyk gelukkig nie snert nie…