Rassespanning hoog by Sasol oor nuwe bemagtigingskema

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) moet Woensdag besluit of Sasol se “woedende” wit werkers mag staak oor hul uitsluiting uit die maatskappy se nuwe bemagtigingskema.

Die vakbond Solidariteit voer aan wit werknemers met tot 30 jaar diens sal vyf keer minder aandele in die Khanyisa-skema kry as ’n swart werknemer wat byvoorbeeld maar drie dae lank vir die maatskappy werk.

Sasol se verweer is dat hy bloot deelneem aan die transformasie van die ekonomie “tot voordeel van al sy werkers”.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê Inzalo, die vorige bemagtigingskema, het werknemers van alle rassegroepe bevoordeel wat op ’n spesifieke posvlak was.

Die Khanyisa-skema onderskei tussen rassegroepe.

“Die nuwe skema bestaan uit twee kategorieë werknemers, waarvan die eerste kategorie almal insluit wat deel was van die Inzalo-skema.

“Hiervolgens ontvang almal wat deel van die Inzalo-skemaaandele was R100 000.”

Volgens Hermann het Solidariteit ’n groot probleem met die tweede kategorie wat net uit swart werknemers bestaan wat aandele ter waarde van R500 000 ontvang.

“Dit beteken dat ’n jong wit werknemer wat nou by Sasol begin werk, geen voordeel ontvang nie, al sou hy vir nóg 30 jaar vir die maatskappy werk, maar ’n jong swart werknemer kry álle voordele.

“Ons lede is woedend hieroor omdat dit Sasol se werkmag in twee verdeel: die een deel swart en verryk en die ander deel wit en sonder enige voordeel.

“Dit is nie meer bemagtiging nie, maar verryking op grond van ras.

“Twee werknemers op presies dieselfde vlak word nou verskillend behandel en vergoed.”

Hermann waarsku dat dié besluit tot onnodige rassespanning gaan lei omdat dit nie erkenning gee aan wit werknemers se lojaliteit en produktiwiteit nie.

“Die onderskeid is bloot onbillik en nie moreel regverdigbaar nie,” sê hy.

Matabello Motloung, Sasol-woordvoerder, ontken dat die skema geskep is om rykdom vir een rassegroep te verkry en nie vir ’n ander rassegroep nie.

“Dit is in wese ’n ekonomiese groeistrategie om ongelykheid – die swakste skakel in ons ekonomie – te takel.”

Sy sê die Inzalo-skema het op die bemagtiging van alle werknemers gefokus wat nie bestuurs­poste beklee nie, sowel as swart werknemers in bestuursposte.

Die Khanyisa-skema fokus op alle werkers wat deur die Inzalo- skema bemagtig is, sowel as alle vaste swart, bruin en Indiër-werknemers, sê sy.

Hermann sê Sasol het in November aangevoer dat Sasol die Khanyisa-skema moes skep omdat Sasol “skynbaar” R14 miljard se transaksies sal verloor “indien hulle nie ’n 100%-swart transaksie beklink nie”.

“Ons glo daar is alternatiewe maniere om dit op te los,” sê Hermann.

“Ons is ook teleurgesteld dat Sasol ons nie gekonsulteer het nie.

“Ons is by talle ander werknemeraandeleskemas betrokke waarin wit mense in bykans alle gevalle deel is van die bemagtigingsaksie.

“Ons het reeds opdrag aan ’n kundige gegee om ’n alternatiewe voorstel te formuleer en ons glo dit sou onbillik van Sasol wees om nie na die voorstelle te kyk nie,” sê hy.

Indien daar nie ’n skikking by die KVBA bereik kan word nie, sal dit die eerste keer wees dat die KVBA ’n sertifikaat sal uitreik wat wit werknemers in staat sal stel om wettig te staak uit protes teen rasse-uitsluiting, sê Hermann.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!