Rassespanning in SA ‘ʼn geweldsiklus’ en dit is tyd dat dit tot einde kom

Dit is nou die tyd om ʼn openhartige en gebalanseerde debat in Suid-Afrika te begin oor die seer en vernedering in die land se geskiedenis sodat die siklus van geweld en trauma tot ʼn einde kan kom.

Dít was die pleidooi van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Hélène Opperman Lewis, ʼn sielkundige en skrywer van die boek Apartheid: Britain’s bastard child, tydens ʼn mediakonferensie Woensdagoggend in Centurion.

Hermann het tydens die konferensie ʼn brief voorgelees wat hy aan die toekomstige koning van Engeland, prins William, gerig het.

“Daar heers tans ʼn groot debat in die land oor ʼn postkoloniale en ʼn gedekoloniseerde Suid-Afrika. Ek is van mening dat daar nie oor apartheid, postkolonisasie en dekolonialisme gepraat kan word sonder om weer die Anglo-Boereoorlog te konfronteer nie.

“Die historiese rol wat Afrikaners in die stryd teen kolonisasie gespeel het en die invloed wat Britse besetting op die denke van Afrikaners gehad het, val tans heeltemal buite die debat.

“Boonop word hierdie stuk geskiedenis, wat ook my storie is, gekriminaliseer, en dit is heeltemal vals. My geskiedenis bevat foute, maar dit beteken nie die gemeenskap wat die foute begaan het, moet nou ewe skielik totaal ontbind word nie.”

Hermann het gesê die vraag word dikwels gevra waarom die enigste stam in Afrika wat daarin geslaag het om kolonialisme te oorwin, dit toe net gaan voortsit het deur ʼn stelsel wat apartheid ingestel het.

“’n Mens kan dit in konteks plaas teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog en wat daar gebeur het. Dit is ʼn paradoks, maar Afrikaners se antwoord op kolonialisme was herhaling van daardie selfde soort logika – dit is vreeslik en terselfdertyd ʼn ironiese verskynsel,” het Hermann bygevoeg.

Hy meen dit is ook ʼn verklaring vir hoekom Afrikaners deesdae so heftig reageer, onder meer in die Spur-debakel en die herrie wat tans rondom die Jacaranda FM-omroeper, Tumi Morake, se uitsprake woed.

Lewis het verduidelik in haar soeke na die Afrikaners se morele bewussyn tydens die skryf van haar boek, het sy bevind dat trauma maklik van een generasie na ʼn ander generasie oorgedra word indien dit nie aangeraak en behandel word nie.

“Daar is tans genoeg nuwe navorsing in sielkunde en die neurowetenskap wat toon emosionele pyn het presies dieselfde invloed as fisieke pyn. Boonop is daar bewys dat trauma die brein onherroeplik verander, wat nog te sê van herhaaldelike trauma, wat deur iets soos ʼn oorlog veroorsaak word. Dit verklaar dan waarom die persoon wat gister verneder is, weer so maklik môre iemand anders kan verneder. Hierdie mense herhaal dikwels ʼn siklus van geweld, en dit word boonop onbewustelik gedoen.

“Ons kon nog nooit uit die geskiedenis leer nie, want ons is tans net besig om die siklus van vernedering en skaamte te voed. Hierdie vernedering skep ʼn begeerte tot wraak in ʼn desperate poging om selfrespek en menswaardigheid te herstel, maar dit lei net tot verdere vernedering.”

Lewis het gesê dit verontskuldig egter niemand van die wandade wat hulle in die toestand pleeg nie: “Dit help ons net om te verstaan hoekom dit gebeur het.”

Lewis het gepleit dat Suid-Afrikaners ʼn transgenerasie-trauma moet verstaan om te verseker dat daar genesing in die toekoms kom.

“Dit is erger as ekonomiese leed en ʼn mens moet verstaan die trauma wat uit hierdie herhaaldelike soort vernedering en skaamte ontstaan het, neem lank om te genees; ʼn mens moet geduldig wees.”

Hermann het gesê hy het aan die einde van sy brief tot ʼn slotsom gekom dat hy nie wil hê die Britte en prins William moet verskoning vra vir dit wat met Afrikaners tydens die Anglo-Boereoorlog gebeur het nie.

“Ek dink eerder dit sal meer beteken as ons onderlinge begrip vir mekaar se geskiedenis binne ʼn postkoloniale konteks en ʼn debat hieroor toon. Daarom dink ek dit sal veel meer beteken as ons William se grootoom Christian Victor se graf saam besoek en ʼn krans daar lê, asook my grootoom Petrus se graf in die Irene-konsentrasiekamp en die Seko-familie se grafte in Bloemfontein en kranse by die grafte lê. Dit sal ʼn simboliese daad wees daarvan dat ons nie die verlede vergeet nie, maar ook nie sal herhaal nie sodat ons kan bou aan ʼn nuwe toekoms.”

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!