Rassisme word kriminele oortreding en sekswerk wettig

Rassisme sal sodra nuwe wetgewing daarteen deur die parlementêre prosesse is, ’n kriminele oortreding word.

Die ANC het Woensdag die beleidsvoorstel daaroor wat in Julie vanjaar by die party se nasionale beleidskonferensie gemaak is, op sy nasionale konferensie in Nasrec, Johannesburg, bekragtig.

Ons het dit ook benadruk dat die volkslied as nasionale simbool van die land gerespekteer moet word.

Só het Nocawe Mafu, lid van die ANC se kommissie vir sosiale transformasie, Woensdag gesê tydens ’n perskonferensie waar haar kommissie verslag gedoen het oor besluite wat daar tydens die kommissie se sittings by die konferensie geneem is.

Mafu is tydens die perskonferensie vergesel deur Susan Shabangu, voorsitter van die kommissie.

Mafu is onder meer gevra of die komitee enige besluite oor rassisme en maatskaplike samehorigheid geneem het, veral omdat dit blyk of daar al hoe meer voorvalle van rassisme in die land plaasvind.

Mafu het gesê daar is in Julie op die beleidskonferensie besluit dat ’n wet geskep moet word om rassisme te kriminaliseer.

“Daardie besluit is nou bekragtig. Daardie wetsontwerp moet nou net deur die parlementêre prosesse gaan voordat dit geïmplementeer moet word.”

Sy is ook gevra of daar enige besluite oor die volkslied geneem is.

“Die kwessie van die volkslied is ook bespreek. Ons het dit benadruk dat ANC-lede die onderskeid tussen die volkslied en (die oorspronklike weergawe van) “Nkosi Sikilela” moet kan tref. Ons het dit ook benadruk dat die volkslied as nasionale simbool van die land gerespekteer moet word.”

Mafu het ook bygevoeg dat die kommissie ook besluit het dat sekswerk gedekriminaliseer moet word.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!