Regering is letterlik besig om te verkrummel – Staatsgeboue gevaarlik vir mense

Die regering is letterlik besig om te verkrummel. Meer as 3 000 staatsgeboue is nie geskik vir menslike gebruik nie en byna 10 000 het ernstige strukturele gebreke.

Dít is volgens Nathi Nhleko, minister van openbare werke.

Nhleko sê in antwoord op ’n parlementêre vraag 3 046 staatsgeboue is onveilig en 9 413 het ernstige strukturele probleme.

Net minder as 70% van die geboue (65 080) is in ’n gemiddelde toestand, terwyl 15 690 geboue in ’n goeie toestand is. Slegs 1% (715) van die geboue is in puik toestand.

“Dit is onduidelik watter van hierdie geboue tans in gebruik is, maar dit is wel duidelik dat die land se verwaarloosde infrastruktuur op die randjie van ineenstorting is,” sê Malcolm Figg, die DA se woordvoerder oor openbare werke.

Figg sê in ’n verklaring dit is onaanvaarbaar dat die regering bereid is om die lewe van hardwerkende staatsamptenare op so ’n wyse in gevaar te stel.

Figg plaas die blaam op korrupsie wat die geld vir die instandhouding van hierdie geboue wegvreet.

“Staatsgeboue is ’n kritieke komponent van ekonomiese groei en ontwikkeling. Indien dié geboue vervalle is sal dit ernstige gevolge vir die ekonomie en die voorsiening van maatskaplike dienste hê.”

Figg het belowe om Nhleko “te looi” met verdere vrae oor wat hy beplan om te doen om die betrokke geboue op te knap.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!