Regsdosent, Benny Morota van Unisa, voor hof gedaag oor rassistiese anti wit opmerkings

Die vakbond Solidariteit gaan dringende stappe teen Benny Morota, ʼn regsdosent aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), doen nadat dié universiteit “weereens sy rassistiese optrede oorgesien het”.

Swart akademici onder leiding van Morota het glo tydens ʼn vergadering met die akademici en die visekanselier op 30 Junie vanjaar teenkanting gebied teen die heraanstelling van prof. Melodie Labuschagne as dekaan, omdat dit glo onaanvaarbaar is om ʼn wit vrou as dekaan aan te stel.

Volgens Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die professionele bedryf by Solidariteit, is dit nie die eerste keer dat Morota hom aan rassistiese oortredings skuldig maak nie.

“Morota het op 7 Januarie 2016 opslae gemaak toe hy sy haat teenoor wit mense in ʼn Facebook-plasing uitgestort het. Een van sy plasings lui onder meer: “I hate white people and they must go back to wherever they come from or alternatively to hell.” Ander opruiende aanmerkings wat hy gemaak het, lui soos volg: “i dnt entertain white cockroach like yourself … i dnt understand why you interfere in my black business … F*ck you pink white murderer … Enjoy the blood wealth of our people, your time to pay with your white skin is emmenent [sic].”

Botha voer aan hoewel Unisa aanvanklik geskok was en hul teleurstelling oor die voorval uitgespreek het, het hulle hom tien maande later slegs ʼn “ernstige waarskuwing” gegee.

Volgens Botha het Martin Ramotshela, Unisa se woordvoerder, amptelik gesê dat die universiteit nie sal huiwer om ernstige stappe teen Morota te doen indien hy hom weer skuldig maak aan rassisme nie.

“Unisa se woorde dra egter geen gewig nie. Hulle het net weer hul skouers opgetrek en in die proses hul plig versuim om werknemers wat slagoffers van rassisme is te beskerm,” het Botha gesê.

“Solidariteit het namens hul lid aansoek gedoen vir ʼn tussentydse bevel teen Morota. Die bevel is op 13 November uitgereik en die saak word op die keerdag, 4 Desember, in die Pretoria-landdroshof aangehoor.”


Enjoyed this post? Share it!