[Resensie] ‘30 Years, 90 Minutes’: Nataniël weergaloos ná 30 jaar

Nataniël (Foto: Verskaf)

Weinig dinge van waarde kan begin én voltooi word binne die bestek van 60 sekondes: Hoër gehalte en selfs hoër waarde verg meer tyd juis omdat elke aksie eers aandagtig ondersoek en evalueer moet word voordat dié aksie uiteindelik gestalte kry.

Nataniël se jongste verhoogproduksie, 30 Years, 90 Minutes, slaan nie ag op vooropgestelde idees soos dié nie. Daar is gewis iets bomenslik aan die pas waarteen Suid-Afrika se verhoogliefling daarin slaag om van een kostuum na die volgende te glip – om die waarheid te sê, sou jy jouself nie keer nie, raak jy só meegevoer om te probeer uitpluis presies hóé dit moontlik is om sommige kostuumsveranderings in minder as tien tellings te doen, dat jy so byna net die stert van die daaropvolgende storie of liedjie sal vang voor jy weer heeltemal begin fokus. Dalk verklee hy juis blitsig vanweë jare se ‘aandagtige ondersoek en evaluering’ – maar dít bly nietemin ʼn karaktertrek wat slegs die meesters besit.

Vir langer as 30 jaar was dit veral die kunstenaar se verbluffende kostuums en stelontwerp wat die teaterganger na ʼn wêreld ver hiervandaan wegvoer; wat jou na ʼn nuwe wêreld van fantasie én opwinding én humor wegmoffel.

Dié keer blyk iets tog anders te wees; en sou jy nié die kunstenaar se suksesse van die verlede ken nie, mag dié groot oomblikke jou dalk verbyglip. In 30 Years, 90 Minutes deel Nataniël waarskynlik meer oor homself as in al die produksies wat dié een voorafgegaan het – en die teaterganger kan dié keer tussen feit en fiksie onderskei.

Dit is waarskynlik tipiese Nataniël-styl om sy gehoor te bedank. Van hulle volg hom immers al vir langer as 6 000 verhoogproduksies en sowat 80 oorspronklike konserte. Dalk is dit om dié rede dat hy in sy jongste produksie direk met die gehoor praat en verskeie kere staaltjies uit sy eie lewe deel om die geskiedenis van ʼn spesifieke uitrusting of liedjie te deel. Die produksie is as’t ware ʼn viering van sy 30 jaar in die bedryf – vandaar ook die titel – en hy deel hoogtepunte van dié tydperk met ʼn gehoor wat dit vir die kunstenaar moontlik maak om ná drie dekades steeds op die verhoog te wees.

Wat 30 Years, 90 Minutes veral anders as sy voorgangers maak, is dat Nataniël in dié produksie nié die sogenaamde storie-liedjie-storie-liedjie-resep volg nie, maar die teaterganger innooi na ʼn opwindende wêreld van ʼn “unstoppable” (soos hy na homself verwys) 20-jarige met géén Plan B nie: Die teaterwêreld sou van hom kennis neem selfs al sou dit sy laaste asem geverg het. Hy vertel daarom, asof hy in gesprek is met ʼn individuele teaterganger, staaltjies wat hom vandag nog bybly en gebeurtenisse wat hom op dié reis help vorm het. Die produksie bied ʼn meer persoonlike kykie na die kunstenaar as voorheen – byna asof twee ou vriende oor die verlede én die toekoms gesels.

Nataniël (Foto: Verskaf)

Nataniël vertel onder meer oor die eerste uitrusting ooit wat vir hom gemaak is deur ʼn ontwerper: Dié bo-stuk was onder meer vir sy eerste televisieverskyning op SAUK (SABC) TV. Met humor onthou hy hoe die vervaardigers maar aangebied het om liefs spesiaal vir die kunstenaar iets te laat ontwerp eerder as hom toe te laat om sy eie uitrusting te kies – in die verlede was sy uitrustings “meer onbeskof” en sy “outfits het moeilikheid veroorsaak”.

Sy stories en liedjies – ʼn integrale deel van wie hy as kunstenaar is – vorm egter steeds die grootste deel van die konsert. 30 Years, 90 Minutes bring die teaterganger vir die soveelste keer onder die indruk van sy meesterskap. Daar is báie te sê oor sy meevoerende stories, in Afrikaans én Engels, en die wyse waarop dit vertel word. Dít opsigself is ʼn kuns wat sekerlik nié deur iemand anders só bemeester is nie: Hy het eenvoudig ʼn manier om ʼn storie te vertel sodat die teaterganger nie ʼn piepgeluid uit die stampvol teater sal hoor nie. Dit is selfs moeilik om net vir ʼn enkele oomblik weg van die verhoog te kyk uit pure vrees dat iets ongesiens- of gehoord dat sal verbyglip.

Interessant oor Nataniël is dat hý en talle van sy aanhangers jaar na jaar opmerk dat die sanger ʼn groter vokale omvang as in die verlede het, en in elke produksie blyk dit die waarheid te wees. Dalk kan dit toegeskryf word aan die kunstenaar se keuse van liedjies en melodieë wat die beste van sy stem ten toon stel. Die oorspronklike musiek, sommige van sy jongste album – One Day in a Castle wat in Mei vanjaar bekendgestel is – bevredig deurgaans. Sy verwerkings van liedjies soos “Delta Dawn” en “You’re my world”, kry wéér ʼn Nataniël-stempel en beïndruk dié met ʼn fyn oor vir musiek. Dihan Slabbert en Nicolaas Swart, sy mede-musikantvriende wat vanjaar weer saam met hom op die verhoog is, beïndruk ook in solo-stukke én harmonieë.

30 Years, 90 Minutes word uiteindelik ʼn vertoonkas vir die sanger om ware kunstenaarskap ten toon te stel. Dié vertoonkas – die verhoog – word ook anders as vorige produksies ingerig aangesien die verhoog dié keer deurlopend deur die produksie gebou en aanmekaar gesit word. In teenstelling met vorige jare word daar dié keer niks van die verhoog verwyder nie, maar eerder met elke interval iets bygevoeg totdat die verhoog uiteindelik volmaak is; iets wat waarskynlik as ʼn metafoor gesien kan word vir dié drie-dekade lange reis wat hy onderneem het en die spore wat hy steeds in die verhoogwêreld gaan trap.

Nataniël se jongste album (Foto: Facebook)

Die kostuums, ook weer die skeppings van Floris Louw, Nataniël se jarelange ontwerper, is weergaloos en selfs groter as wat die teaterganger vóór die produksie kan versin. Louw het reeds in 2004 vir die Nataniël House of Music begin ontwerp en het al die kostuums vir produksies soos Factory, Cathedral en After Animals ontwerp.

Sou Nataniël slegs een ding met dié produksie wou beklemtoon, is dat hy byna sonder eweknie in die bedryf is. Selfs al verseker sy gevestigde handelsmerk dat hy nié meer hoef te probeer beïndruk nie, kan die individu nie anders as om wél magies beïndruk te wees nie. Om ná 30 jaar steeds vir weke aaneen ʼn teater vol te pak én boonop jaar ná jaar na die verhoog terug te keer met ʼn suksesverhaal, sê een boodskap duidelik: Hy is ʼn meester.

30 Years, 90 Minutes is nog tot 24 September te sien in die Theatre of Marcellus by Emperors Palace – Donderdag tot Sondae om 20:00. Bespreek kaartjies by Computicket of skakel 011 928 1297/1213.

30 Years, 90 Minutes [Nataniël]
Met Dihan Slabbert en Nicolaas Swart [sangers]
Charl du Plessis [klavier], Werner Spies [baskitaar], Juan Oosthuizen [kitaar], Hugo Radyn [tromme].
By Emperors Palace tot 24 September

Enjoyed this post? Share it!