Rowers dreig om vyfjarige meisie in oond te druk tydens huisrooftog

Vier booswigte het ’n gesin gedreig om ’n vyfjarige kleuter in die oond te druk as die gesin nie hul versoek gehoorsaam om waarde volle items aan hulle te oorhandig tydens ’n huisrooftog nie. Die voorval het afgespeel Dinsdag oggend omstreeks 08:45 in Old Inandaweg in Verulam in KwaZulu-Natal.

Volgens ’n verklaring van Reaction Unit South Africa (Rusa) op hul Facebook-blad is beamptes na die toneel ontbied deur een van die slagoffers. Daar kon vasgestel word dat die verdagtes toegang tot die huis verkry het deur ʼn oop deur. Hulle het die gesin, ʼn huishulp en ʼn man wat gehuur is om teëlwerk aan die huis te doen aangehou.

Een van die verdagtes het glo ʼn handwapen by hom gehad en geëis om die kluis te sien. Hulle het gedreig om die vyfjarige meisie in die oond te druk as daar nie aan hulle eise voldoen word nie.

Een van die slagoffers het ʼn verdagte na ʼn slaapkamer gelei en gewys waar die kluis in ʼn kas weggesteek is. Volgens Rusa het die verdagtes die kluis van die muur losgebreek met ʼn graaf.

Hulle het die slagoffers met kabelbinders en toue vasgebind en hulle in een van die slaapkamers toegesluit.

Na bewering het die rowers met die kluis van die toneel gevlug waarin daar sewe selfone en ʼn onbevestigde hoeveelheid kontant was.

Die slagoffers kon egter daarin slaag om hulself los te maak en het hulp ontbied.


Enjoyed this post? Share it!