Rowers slaan bejaarde met breekyster tydens inbraak

Rowers het ’n bejaarde man in die De Wildt-omgewing met ’n breekyster wakker geslaan toe hulle Dinsdagoggend vroeg by sy huis ingebreek het.

“Hoe doen jy dit met ’n skoon gewete?” het Rubin van Rooyen van die plaaslike buurtwag enkele ure ná die aanval gevra.

Hy was op die toneel waar Frans van Loggerenberg (70) omstreeks 01:00 op ’n hoewe naby De Wildt oorval en beroof is. De Wildt is op die grens tussen Noordwes en Gauteng.

Volgens Van Rooyen het die rowers Van Loggerenberg met die breekyster geslaan waar hy in sy bed geslaap het.

“Hy woon alleen en het ’n hartprobleem. Hy het vergeet om die deur te sluit. Die rowers het hom met die skerp punt van die breekyster teen die kop en been geslaan. Hulle het gevlug toe die oom skree en ander huise op die hoewe dit gehoor en hul ligte aangeskakel het.”

Volgens Van Rooyen het die rowers met onder meer ’n beursie, ’n selfoon en Van Loggerenberg se radio, waarop hy versot was, gevlug.

“Een van die rowers was so arrogant om die laaste nommer op Van Loggerenberg se foon te bel. Een van die mense wat naby hom woon, het opgetel. Toe dreig hy hy gaan terugkom indien hulle hom nie R5 000 betaal nie.”

Die buurtwag het die foon se sein gevolg tot by ’n plakkerskamp in Ga-Rankuwa, sowat 37 km van Pretoria. “Daar is baie buitelanders, selfs die polisie is bang om daar in te gaan,” sê Van Rooyen. “Die polisie het wel ’n verklaring afgeneem.”

Van Rooyen sê Van Loggerenberg het geweier om hospitaal toe te gaan. Yvonne de Beer, ’n buurvrou, het sy wonde versorg en verbind.

“Mense in die gemeenskap sal hom nou gereeld besoek en seker maak alles is reg. Almal ken hom, hy loop altyd met sy loopraam van sy huis na die kafee hier om ’n bietjie oefening vir sy hart te kry.”

Foto: Verskaf: Frans van Loggerenberg nadat rowers hom Dinsdagoggend vroeg met ’n breekyster geslaan het.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!