Rowers teiken ondernemings in Virginia

Die polisie is op die spoor van rowers wat sakeondernemings in Virginia teiken.

Volgens kapt. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder, is drie ondernemings die afgelope drie weke beroof.

Debonairs Pizza is Vrydag omstreeks 22:00 beroof.

 Twee gewapende mans met klapmusse het die pizzaplek ingestorm, die eienaar en werkers gedreig en met R4 300 op die vlug geslaan.

Die afgelope Saterdagaand is die kroeg Mahloane in Saaiplaas kort ná 01:00 beroof. Dié twee rowers was, na verneem word, ook in blou oorpakke en met klapmusse vermom. Hulle het met sowat R4 000 gevlug.

Die derde voorval het op 8 Junie by die Matjhabeng-munisipaliteit plaasgevind toe vyf rowers, ook met klapmusse en gewapen met messe, die veiligheidswagte oorval en vasgebind het. ’n Groot aantal koperkabels is gebuit.

  • Enigiemand met inligting moet die polisie kontak, vra Khosana.
  • Bron: Netwerk24

 

Enjoyed this post? Share it!