Rustenburg-ouers vas oor seksaanklagte met eie kind (3) – Samelewing waarin ons vandag leef is siek verby

ʼn 45-jarige pa en 41-jarige ma van Rustenburg in Noordwes het Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die beweerde verkragting van hul verkragting

Kapt. Elsabe Augoustides, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die ouers het hul tweede verskyning in die hof gemaak op aanklagte van verkragting en die versuiming om seksuele misbruik van ʼn kind en kinderverwaarlosing aan te meld.

“ʼn Lid van die Care to be Kind-organisasie het in Desember die voorval by die polisie aangemeld. Die ma was glo hoogs besope en het met die dogtertjie in die omgewing van Bobby’s-rugbyklub in Ooseinde rondgeloop. Die ma is glo gereeld met die kind in die omgewing gesien waar sy vir geld gebedel het om na haar om te sien.”

Die ma het glo in ʼn stadium die kind vir ʼn bedrag geld aan die lid van die organisasie oorhandig, waarna die meisie deur die organisasie na ʼn plek van veiligheid geneem is.

Die Rustenburg-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) het die saak noukeurig ondersoek en die ouers verlede week in hegtenis geneem. Die meisie is kort ná die ondersoek van stapel gestuur is, na ʼn hospitaal geneem vir ʼn mediese evaluasie.

“Tydens die mediese ondersoek is daar vasgestel dat die kind vermoedelik seksueel misbruik is. Bewyse in die verband is tydens die egpaar se eerste verskyning op 14 September in die hof voorgelê om die ernstigheid van die kind se beserings uit te lig. Daar is verder genoem dat die kind regstellende chirurgie sal moet ondergaan vir die beserings wat sy opgedoen het.”

Die saak is op 14 September tot Dinsdag uitgestel vir die ouers se formele borgtogaansoek. Die staat staan die aansoek teen. ʼn Groep plaaslike inwoners het by die hof saamgedrom om teen die ouers se aansoek te betoog.

Die pa het net halfpad getuig toe die hof vir die dag moes sluit. Verrigtinge sal na verwagting Woensdag hervat. Die ouers bly in aanhouding.

Die dogter is steeds in ʼn plek van veiligheid. Die ouers se name mag alvorens die Kinderwet nie genoem word nie om die meisie se identiteit te beskerm.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!