SA bokslegende, Willie Toweel sterf op Kersdag

Die Suid-Afrikaanse bokslegende Willie Toweel is Maandag op Kersdag in die ouderdom van 83 oorlede.

Ron Jackson, bekende sportskrywer, het dié nuus aan SuperSport bevestig.

Toweel is by sy huis oorlede ná ʼn siekbed. Meer besonderhede oor sy afsterwe is nie bekend nie

Die ontslape Toweel, van die bekende boksfamilie, het tydens die 1952 Olimpiese Spele in Helsinki ʼn bronsmedalje gewen. Nadat hy in die 1960’s ʼn nederlaag teen Emile Griffith gehad het, het hy as professionele bokser uitgetree en ʼn bekende boksafrigter geword.

Van sy bekendste gevegte was dié teen Johnny van Rensburg wat daarin geslaag het om Toweel te oorwin nadat hy 23 kampioenskappe na mekaar gewen het, en sy geveg teen die Frans-Algeriese bokser, Robert Cohen, waartydens hy ʼn wêreldtitel losgeslaan het.

Verskeie berigte noem dat Toweel ná 1956 “doelbewus teruggehou het om te verhoed om sy teenstanders seer te maak”. Dit het gevolg nadat Hubert Essakow in die hospitaal beland het ná ʼn geveg teen Toweel en later oorlede is.

Hy het sy Empire-titel later tydens ʼn tweede geveg teen Dave Charnley verloor – glo deels omdat die gebeure van die geveg met Essakow by hom gespook het.

As boksafrigter het hy onder meer vir Charlie Weir, Brian Mitchell en Thulani ‘Sugarboy’ Malinga afgerig.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!