SA gaan huiswerkers opoffer vir minimum loon

huiswerkersWerkloosheidsyfers is die belangrikste aanwyser van ’n regering se prestasie en die welstand van ’n land, maar in Suid-Afrika vertel die syfers nie die hele storie nie.

Tog het die kwartaallikse arbeidsmagpeiling wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Maandag bekend gemaak het, ’n duidelike boodskap waaroor geen twyfel is nie: Werkloosheid neem beduidend toe.

Volgens die arbeidsmagpeiling het die werkloosheidskoers die afgelope jaar met 0,6% gestyg tot 29,3%. Dit is volgens die enge definisie van werkloosheid, wat mense uitsluit wat in die maand voor die peiling nie aktief werk gesoek het nie. Volgens die breër definisie, wat sogenaamde ontmoedigde werknemers insluit, het werkloosheid met 0,2% gestyg tot 36,3%. Maar daar is 204 000 meer mense wat nou werk het as ’n jaar gelede. Dit is groei van 1,3% in die arbeidsmag van einde Maart 2015 tot einde Maart 2016. Dit is doodeenvoudig omdat die potensieel ekonomies aktiewe bevolking aansienlik vinniger groei as die groei in werkgeleenthede.

Ons sal dus baie vinniger moet groei as wat ons die laaste paar jaar gegroei het as ons die werkloosheidskoers wil verminder. En daar moet geen twyfel wees daaroor dat dit die land se enkele grootste uitdaging is nie.

 Een van die ontstellendste syfers in die jongste arbeidsmagpeiling is die skerp daling in die getal laag geskoolde werknemers. Huiswerkers, sekerlik die mees kwesbare groep werkers in die ekonomie, het die afgelope jaar met 24 000 verminder, van net meer as 1 miljoen tot 984 000. Vir die eerste keer sedert huiswerkers afsonderlik in die arbeidsmagpeiling gemeet word, is hulle minder as ’n miljoen.

Vaardige plaaswerkers het met 15 000 verminder tot 68 000. Ongeskoolde plaaswerkers word nie afsonderlik gemeet nie, maar ’n mens kan aanvaar dat hulle ook minder geword het.

Hou in gedagte dié twee kategorieë is dikwels vir meer as lone van hul werkgewers afhanklik: verblyf en selfs kos.

Dit is ook die twee kategorieë wat heel eerste ’n minimum loon gekry het. En die land staan op die punt om midde-in die neerdrukkende omstandighede ’n nasionale minimum loon in te stel, wat ’n mens dadelik laat dink dat die instelling van die minimum loon net eenvoudig ’n dom idee is. Een van die sterkste argumente ten gunste van ’n nasionale minimum loon is die ongemaklike stukkie statistiek dat ’n raps meer as die helfte van die land se arbeidsmag minder as R3 500 per maand verdien . . .

Die groot vraag is natuurlik die vlak waarop die minimum loon ingestel moet word, want as dit meer is as wat werkgewers kan bekostig, gaan dit onvermydelik tot werkverliese ly. En in dié opsig is ongeskoolde huiswerkers en landbouwerkers verreweg die kwesbaarste.

Die sterkste oorweging vir ’n nasionale minimum loon is humanitêr, maar daar is ook ’n ekonomiese oorweging: ’n Minimum loon verhoog die vraag na goedere en dienste omdat dit mense meer koopkrag gee. Of dalk koopkrag gee aan mense wat dit voorheen nie gehad het nie. Daar is niks wat ’n entrepreneur of sake-eienaar so ontmoedig soos ’n leë bestelboek nie. Ons ekonomiese groeikoers is laag omdat bestelboeke leeg is. ’n Ander manier om dit te sê, is die vraag na goedere en dienste is swak. En ’n doodgewone manier wat almal kan verstaan: Ons mense is doodeenvoudig te arm om ons ekonomie vinniger te laat groei. Daarom het ons ’n nasionale minimum loon nodig.

Die argument werk die beste in tye van ’n ekonomiese opswaai. In Brasilië het dit in die tydperk 2004 tot 2010 tot enorme armoedeverligting gelei, die rede waarom Brasilië nie meer die land is waar ongelykheid die ergste ter wêreld is nie, maar wel Suid-Afrika. ’n Minimum loon is dekades gelede reeds daar ingestel, maar dit was betekenisloos laag. Eers met die opswaai in die hulpbronsiklus in 2003-’4 is dit verhoog.

Daar is intense gesprekke in die regering en Nedlac aan die gang oor die vlak van die minimum loon. Bedrae wissel tussen sowat R2 250 en R5 500 per maand. Selfs teen die laagste voorgestelde loon sal dit ekonomiese bedrywighede stimuleer, veral wanneer ekonomiese groei eendag versnel.

Die huidige minimum loon vir huiswerkers is R2 230 per maand in stede en R1 993 per maand in landelike gebiede – minder as die nasionale minimum wat nou oorweeg word. Daar gaan dus huiswerkers wees wat hul werk verloor.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het verlede week in die parlement gesê Nedlac se besluit oor die minimum kerf gaan weens die verkiesing nog ’n rukkie duur. Dis mos maar hoe politici is . . .

Bron:Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!