SA Parlement ‘n sirkus – ANC-LP wys middelvinger en dreig glo vrou

Mervyn Dirks, ’n ANC-LP is Donderdag uit die Nasionale Vergadering (NV) gegooi omdat hy sy middelvinger gewys het nadat hy na bewering ’n vrouekollega gedreig het.

Dirks is een van die LP’s wat teen die debat oor staatskaping gekant is.

Cedric Frolick, voorsitter van die NV, het verrigtinge omstreeks 18:20 gestaak sodat daar aandag gegee kan word aan probleme met die elektroniese stemstelsel.

John Steenhuisen, die DA se hoofsweep, het toe die verrigtinge hervat, ’n punt van orde geopper en gesê hy het net voor die verdaging gesien hoe Dirks een van die vroue wat langs hom gesit het te lyf wou gaan.

“Vir die veiligheid van die lede daar en die dekorum van die huis, dink ek regtig dat hy volgens reël 70 uit die huis verwyder moet word,” het Steenhuisen gesê.

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, het gesê “ernstige aantygings is teen ’n lid van die huis gemaak deur lede in daardie hoek”, terwyl hy in Dirks se rigting beduie het.

“Ons het inderdaad hierdie aantygings na die speaker verwys. Die aantygings sluit in dat ons vroueparlementslede daar agter ernstig beledig is. Tweedens is gebare en dreigemente van aanranding teen die lede daar agter gemaak.”

Mthembu het gesê hy het die betrokke lede gevra om die aantygings op skrif te stel sodat dit aan die speaker voorgelê kan word.

Frolick het aan Dirks gevra of die aantygings waar is, waarna Dirks dit ontken het en die DA as rassiste bestempel het.

Deidre Carter, Cope-LP, het kort daarna opgestaan om te kla dat Dirks die middelvinger gewys het.

Frolicks het Dirks vier keer gevra of dit waar is en hom gevra om die vertrek te verlaat nadat hy elke keer ontwykend geantwoord het.


Enjoyed this post? Share it!