SA stem teen VN se menseregte op internet

Kwessies omtrent rassisme en aanhitsing van haat het Suid-Afrika glo onlangs beweeg om teen die Verenigde Nasies (VN) se resolusie omtrent die beskerming van menseregte op internet te stem.

Suid-Afrika het saam met lande soos Rusland en China gestem teen die resolusie genaamd, die bevordering, beskerming en genieting van menseregte op internet, wat deur verskillende lande ingedien is.

Die resolusie poog om menseregte aanlyn te beskerm ten opsigte van vryheid van spraak en privaatheid en wil verseker dat diegene vrygelaat word wat gevangenisstraf uitdien vir wettige sienings wat hulle op internet geplaas het.

Nog een van die sleutelpunte van die resolusie is dat dit die afsluiting van internet tydens verkiesings en terreuraanvalle wil voorkom.

Die meeste lande het egter ten gunste daarvan gestem en dit sal deur die VN se Raad vir Menseregte aangeneem word.

Suid-Afrika se afgevaardigde se verweer waarom die resolusie nie gesteun is nie, is onder meer dat die aanhitsing van haat problematies is in die konteks van ‘huishoudelike’ debatte oor rassisme en die moontlike kriminalisering daarvan.

 Bron: Vryburger


Enjoyed this post? Share it!