SA Verander Van Kleptokratiese Staat Tot ‘N Misdaadstaat Van Epiese Omvang

’n Lys van die pro- en anti-Zuma-kampe in die ANC-leierskorps is in die Sunday Times van 28 Mei gepubliseer. Talle name is ’n groot verrassing teen die agtergrond van hul bondgenootskap met ’n president wat allermins vlekkeloos was toe hy die hoogste amp betree het.

In die “anti-groep” is oudbondgenote soos Blade Nzimande, Jackson Mthembu, Winnie Mandela, Stone Sizane en selfs Gugu Nkwinti. Hulle is vasbeslote om ’n man te kelder wat hulle eens gesteun en selfs liefgehad het. Hul onenigheid met hom verskil van individu tot individu. Talle koester hul eie ambisies vir die troon.

Die “weet nie”-kamp maak my siek. Hulle hou hul kruit droog sodat hulle nie ’n kans vir ’n pos of ’n transaksie in die volgende bedeling verongeluk nie. Hulle het nog nie geleer integriteit is nie sinoniem met draadsittery nie, of dat gelatenheid instemming beteken. Hulle trek toutjies agter die skerms en steun wie ook al die troon bestyg.

Die pro-Zuma-kamp is die gewone klompie verdagtes, ontdaan van ’n morele kompas, wat hom deur dik en dun ondersteun. Hulle is kniediep in die gemors en het niks om te verloor deur enduit lojaal te bly nie.

Om die Zuma-lojaliste op Google na te spoor is soos om die diepte van die hel te peil. Alomteenwoordige name is dié van Salim Essa, die drie Gupta-broers, Brian Molefe en Duduzane Zuma. Hulle word verbind met Trillian, Denel, Eskom, mynbou- en ander openbare entiteite. Die netwerke van intrige en bande met politici lees soos die wie is wie van korrupsie. Ondersoekende joernaliste en die skrywers van Betrayal of the Promise: The Anatomy of State Capture het geleer hulle moet die geldspoor volg om skelm amptenare te ontmasker – ons geld!

DIT IS HOE ONS VAN ’N KLEPTOKRATIESE STAAT TOT ’N MISDAADSTAAT VAN EPIESE OMVANG ONTWIKKEL HET.

Die morsige e-posonthullings ontlok sinisme en wanhoop in ’n land wat vertroue verloor het dat die ANC ooit weer verantwoordbaar sal regeer. Dat ’n konsortium van nonentiteite van Indië die mag kry om Suid-Afrika so omvattend te koloniseer, laat die Hollanders se kolonisering van Suid-Afrika soos ’n grap lyk. Die Zumas het die Guptas onbeholpe as geleiers gebruik om hulself te verryk. Dié wat met hierdie onheilige driemanskap saamspeel, sal in ruil ryklik beloon word. Dit is hoe basies en primitief dit is.

Ons poligame president met sy meer as 20 kinders lyk oorgehaal om hulle almal in klein miljardêrs te omskep voordat hy sy amp ontruim. Dít is wat hy en sy eksvrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, met radikale ekonomiese transformasie bedoel.

Die ANC kla hy is weens die aard van Zuma se besluitneming nie meer die magskern nie. Maar hierdie desentralisering het sy oorsprong in vorige administrasies gehad. Die verrotting het begin toe politici en staatsamptenare toegelaat is om hul sakke onder die dekmantel van swart ekonomiese bemagtiging te vul. Hierdie oënskynlik onskuldige beleid het talle politici kits- en selfs buitensporige rykdom besorg. Onthou diegene wat gesê het “ons het nie by die struggle aangesluit om arm te wees nie”? Wel, talle van hulle is vandag in die anti-Zuma-kamp.

Dit is hoe ons van ’n kleptokratiese staat tot ’n misdaadstaat van epiese omvang ontwikkel het. Ek is bevrees dít is die trajek van Afrikastate ná onafhanklikheid. Pres. Atifete Jahjaga van Kosowo het kragtig gesê: “Demokrasie moet deur oop gemeenskappe gebou word wat inligting deel. Wanneer daar inligting is, is daar verligtheid. Wanneer daar debat is, is daar oplossings. Wanneer daar geen magsdeling, oppergesag van die reg of verantwoordbaarheid is nie, is daar misbruik, korrupsie, onderdrukking en overgenoegdheid.”

Bron: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!