SAAMSTAAN, SAMESMELTING EN KOALISIE IN SUID AFRIKA

Daar gaan geen dag verby dat iemand nie op sosiale media vra: “Waarom staan julle nie almal saam nie?” Dit is al vir eeue ons Afrikaners se wens en dit het nog nooit gerealiseer nie.

Die maklikste manier om dit te verduidelik is om te verwys na twee vennote wat ‘n besigheid wil begin. Dit sal malligheid wees om ‘n sakevennootskap te sluit sonder om eers vrae te vra soos: “Wat bring jy na die tafel? Wat is jou ervaring, kundigheid, jou finansiele posisie, hoe groot is jou klientebasis?” Wil die twee vennote dieselfde ding verkoop, of wil een aartappels verkoop en die ander een sitkamerstelle?

Front Nasionaal is byvoorbeeld ‘n geregistreerde politieke party met ‘n gesagstruktuur van dag- en hoofbestuur, takke, ‘n bankrekening, ingeskrewe lede, ‘n webblad en sosiale media-dekking, ‘n bekende logo en handelsnaam. Dieselfde geld die Vryheidsfront. Organisatories is daar dus min verskil; MAAR FN wil aartappels verkoop en die VF+ vrugteslaai.

Daar is natuurlik ook ‘n horde ander dinge wat in gedagte gehou moet word:

VERTROUE: Binne ‘n party of organisasie ontstaan daar oor ‘n tyd vertroue in jou mede-bestuurslede wanneer dieselfde missie en visie gedeel word. Daarom het partye ‘n beleid, ‘n program van beginsels, ‘n organigram van kommunikasielyne, en sekere pligte en regte.

Elke organisasie (ons ook) kry oor tyd los kanonne – mense met ander agendas en ander idees. Min mense verstaan deesdae die konsep van spanwerk en bestuurslyne. Wanneer die skoonmaker in ‘n firma vir die hoof uitvoerende beampte wil voorskryf watter aartappels verkoop moet word, kan die besigheid maar sy deure sluit. Dit verlam die firma, want nou is die aandag op grieweprosedures, stakings, wegbly-aksies, en “speelgoed uit die kot gooi”.
EENDRAGTIGHEID: Om doelgerig in dieselfde rigting te werk is onontbeerlik vir elke organisasie en party. Harmel en Janda (1994) se studie wys dat leierskap, beleid en organisatoriese struktuur dit byna onmoontlik maak vir politieke organisasies om saam te smelt en selfs koalisies te vorm. In Europa was daar byvoorbeeld tussen 1945 en 1987 slegs 18 gevalle waar daar samesmeltings of koalisies tussen partye was (waarvan byna die helfte in net twee lande, Italie en Finland). Die Nederlandse Gereformeerde Verbond en die Reformatorische Politieke Federatie was die een suksesvolle koalisie wat uiteindelik uitgeloop het op die Christen Unie – net om hulle daarna vas te loop in ‘n apatiese kieserskorps.

In Suid Afrika was daar in die dertigerjare vir ‘n dekade wel ‘n suksesvolle koalisie tussen die Nasionale Party van Hertzog en die Arbeidersparty van Cresswell, maar dit was eintlik meer ‘n koalisie tussen Afrikaner en Engelssprekende afstammeling van die Britse Setlaars. Alle ander “samesmeltings” en koalisies het uiteindelik uitgeloop op die verswelging van een party.

INTERPARTY: Binne elke party is daar faksies (soos die ANC en DA albei tans ondervind). Wanneer ‘n faksie onbeheerbaar raak is dit makliker om van die faksie ontslae te raak as om in voortdurende wantroue te probeer voortbestaan. Die ideaal is om faksievorming heeltemaal te voorkom deur wedersydse respek en vertroue, waar ampsdraers gerespekteer word. Myns insiens was die aanwys van Niekie van den Berg en andere op die VF se kandidatelys en Mazibuko s’n by die DA foute wat dit betref, want dit het getroue partyondersteuners geminag. Enige oorloper van ‘n ander party, of die hele party self, binne ses maande voor ‘n algemene verkiesing moet met agterdog bejeen word, want dit is gewoonlik ego’s en eiebelang wat ‘n groter rol speel as beleid, visie of missie. Samewerking, samesmelting, oorlopery en koalisies moet verkieslik ‘n jaar of meer voor ‘n verkiesing gebeur, want daarna is daar vanselfsprekend spanning binne ‘n party oor “nuwelinge” wat wil kom room skep terwyl jy wil aartappels verkoop.

LEGITIMITEIT: Organisasies werk hard om legitimiteit en handelsname te bevorder. As jy legitimiteit verkry het, is daar groei en as jou handelsnaam bekend raak sal jy groei. Dit is ongelukkig ook so, soos die kras Boeregesegde lui, dat “selfs ‘n drol lok vliee”. Daar was die afgelope tien jaar seker honderde facebook-groepe met allerhande idees. Daar was kortstondige “Afrikanerorganisasies” rondom een “leier”, daar was halfgebakte idees. Almal was en is nie sleg nie, maar almal het nie legitimiteit of ‘n herkenbare handelsnaam nie. Die stert kan nie die hond wil swaai nie.

Wat ek hierbo kwytraak is nie ‘n summiere afwysing van samewerking, samesmelting en koalisies nie; dit is net ‘n poging om te wys hoe moeilik die “saamstaan” is om reg te kry. Dit is nie sommer ‘n whatsapp-gesprekkie nie. Dit is nie sommer ‘n Boertjie van iewers wat met ‘n videotjie almal opvorder om saam te staan nie. Dit is ‘n weldeurdagte besluit wat berus op beginsels, realiteit en bowenal vertroue.

Daar is ‘n magdom slaggate en net iemand wat baie dom is sal ‘n konsep wat werk om aartappels te verkoop probeer van toepassing maak op boeliebief.

Deur: Hannes Engelbrecht/Front Nasionaal


Enjoyed this post? Share it!