SABC 8: almal nou afgedank sonder verhoor

SABC 8: almal nou afgedank Anton van der Bijl, prokureur van die vakbond Solidariteit, sê die afdankings van die agt SABC-joernaliste is skokkend. “Daar is nou ‘n streep in die sand getrek. Ons gaan hof toe,” het hy aan Spektrum gesê. Hy het bygevoeg die SABC se optrede versterk waarskynlik hul kanse om direkte toegang tot die konstitusionele hof te kry.

Hannes du Buisson van die mediavakbond Bemawu, sê in die nuusprogram Spektrum op RSG die SABC het die afdanking van die agt SABC-joernaliste gestoomroller het. Bemawu verteenwoordig vir Ntuli en Calata. Hul regsverteenwoordigers is besig om ‘n dringende aansoek voor te berei wat Donderdag saam met die aansoeke van Krige, Pillay, Venter en Steenkamp aangehoor gaan word. Hulle sal vra dat die afdankings en skorsings opgehef en ter syde gestel word.

Netwerk24 het pas bevestiging gekry dat Thandeka Gqubule, die korporasie se sakeredakteur, ook ‘n afdankingsbrief ontvang het.

Sewe werknemers van die SABC is afgedank sonder dat daar met dissiplinêre verhore teen hulle voortgegaan is.

Die sewe joernaliste is Foeta Krige, Suna Venter, Lukhanyo Calata, Vuyo Mvoko, Jacques Steenkamp, Busi Ntuli en Krivani Pillay.

Thandeka Gqubule is die enigste van agt nuusjoernaliste teen wie dissiplinêr opgetree is en wat nog nie ’n afdankingsbrief ontvang het nie.

Busi Ntuli, uitvoerende vervaardiger van die ondersoekende nuusprogram Special Assignment, is Dinsdagoggend deur die SABC afgedank.

Luidens haar afdankingsbrief is sy “disrespekvol teenoor besluite wat die SABC-bestuur neem”.

Sy het ook “die SABC-bestuur se gesag ondermyn”, lui die brief.

Dit volg nadat die SABC Maandagaand vier senior joernaliste sonder ‘n tugverhoor afgedank het omdat hulle die SABC “nie respekteer nie”, omdat hul  “gedrag nie gaan verander nie” en omdat hulle “voortgaan om die uitsaaier en sy bestuur te minag”.

“Derhalwe het jou voortgesette wangedrag onhoudbaar geword. Jou diens by die SABC word met onmiddellike effek, op 18 Julie 2016, beëindig,”  het Sebolelo Ditlhakanyane, die SABC se hoofbestuurder vir radionuus en – aktualiteit, Maandagaand aan onderskeidelik Foeta Krige, Krivani Pillay, Suna Venter en Jacques Steenkamp geskryf.

Dié vier senior joernaliste, met dekades se ervaring, is gevolglik sedert aandete Maandag werkloos.

Krige en Pillay is uitvoerende regisseurs by onderskeidelik Monitor en Spektrum op RSG en AM en PM Live op SAfm. Venter is senior vervaardiger by Monitor en Spektrum en Steenkamp ‘n ondersoekende joernalis.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!