SABC-kwotas: TV moet ook inval

SABCDie SABC gaan nie net 90% plaaslike inhoud oor sy radiostasies speel nie – SABC3 is volgende.

Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die openbare uitsaaier, sê aan City Press, susterskoerant van Rapport, dis “pynlik” om by fliekvervaardigers te hoor hulle gaan elders terwyl die land ’n uitsaaier het.

“Ek gaan SABC3 oordoen. Dit gaan 80% plaaslike flieks wys.”

Motsoeneng sê hy soek ook meer plaaslike dramas en sepies. “Moenie bekommerd wees oor risiko nie. Ek is risiko en aanvaar verantwoordelikheid.”

 Die musiekkenner Deon Maas sê omroepers wat vir die SAUK werk, staan voor ’n uitdaging: Hulle sal na baie meer plaaslike musiek moet luister.

“Platejoggies kon nog altyd net gaan google wat gewild is oorsee – soos Taylor Swift se musiek. Nou gaan hulle self moet begin om behoorlik na alle plaas­like musiek te luister.

“Juis hieroor gaan ons grootste probleem wees om die beste hoofstroom-popmusiek vir trefferlyste te identifiseer, want vir hip-hop en blues is daar volop musikante in Suid-Afrika.”

Musikante het die afgelope week op sosiale media gejubel oor die SAUK se besluit om die plaaslike radio-inhoud tot 90% te verhoog.

“Nou sal ons uiteindelik een miljoen albums in ons eie land kan verkoop,” het die rapper AKA getwiet.

Volgens die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) moes alle openbare stasies teen vanjaar minstens 60% plaaslike musiek uitsaai. Volgende jaar sou dit tot 70% verhoog word.

Motsoeneng se besluit was Donderdag reeds van krag vir die SAUK se 18 radiostasies.

Pop-, rap- en rockaanhangers is ’n bietjie in die duister gelaat, want Motsoeneng het spesifiek gefokus op gospel, jazz, kwaito en reggae.

Sommige luisteraars was sinies oor die besluit. “Hulle gaan dieselfde groepe en kunstenaars oor en oor herhaal,” het Barney Simon van Jacaranda FM op Facebook geskryf.

“As dit ’n regverdige storie gaan wees en nie oordonderend net Afrika-musiek gaan wees nie, kan dit gaaf wees,” sê Luce Botha op Rapport se Facebook-groep.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, sê: “Ons glo daar is beslis genoeg inhoud om plaaslike stasies met plaaslike inhoud te vul. Tot dusver was dit die meer kommersiële stasies wat nie die paal gehaal het nie. Dis nou Metro FM, 5FM en Good ­Hope FM.”

Volgens hom het dié stasies nie eens altyd 70% gehaal nie, maar op ’n goeie maand kon hulle plaaslike musiek darem tot 78% laat styg.

“R&B is R&B, hip-hop is hip-hop en jazz is jazz. Wanneer dit gespeel word, sal mense dit voel. Maak nie saak of dit plaaslike of oorsese kunstenaars se musiek is nie.”

Gareth Cliff, Idols-beoordelaar, verwelkom die besluit.

By 5FM het hy hard geveg vir plaaslike inhoud, sê hy.

Maas stem saam daar is genoeg plaaslike inhoud.

“Die slegte deel is dit klink soos iets wat Verwoerd sou gedoen het.

“Dit klink soos ’n baie fascistiese idee om vir mense te sê wat hulle oor openbare radiostasies mag luister en wat nié.” – Bron Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!