SABC se besluit om die waarheid in die land te verdoesel wek teenstand op

DA dreig met hof ná SABC se besluit oor betogings

Volgens ’n verklaring van die DA bepaal die Uitsaaiwet dat die SABC ’n verantwoordelikheid het om nuus aan te bied van hoogstaande gehalte wat regverdig, onpartydig en onbevooroordeeld is.

“Dit is wêreldwyd ’n basiese beginsel dat nuusorganisasies se nuusredakteurs, en nie die bestuur wat deur politici aangewys is nie, besluite neem oor hoe nuus aangebied word.

 “Ons is besig om regstappe te doen en al die opsies te oorweeg,” lui die verklaring.

Die EFF het ook Vrydag ná Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SABC, se aankondiging hewige kritiek oor die SABC se besluit gelewer.

“Ons weet vir ’n feit die besluit het niks met die voorkoming van geweld tydens betogings te doen nie. Dit is om nie die ANC tydens verkiesingstyd seer te maak deur betogings uit te saai nie,” lui ’n verklaring van die EFF.

Volgens die EFF saai die SABC rolprente uit waarin daar gemoor word en bendegeweld uitgebeeld word.

“Hoe hits dit nie geweld aan nie?” lui die verklaring.

Die EFF sê die besluit is uitsluitlik geneem om die ANC se beeld te poets.

“Die SABS wil die pyn en lyding wat die ANC vir die land veroorsaak van sy mense weerhou,” lui die EFF se verklaring.

Bron – Netwerk 24



 

Enjoyed this post? Share it!