Sangoma op parool skuldig aan nóg verkragtings

‘n Sangoma van Port Elizabeth, wat nog op parool was vir ’n vorige veroordeling van verkragting, is Dinsdag in die handelshof aan die verkragting van twee susters skuldig bevind.

Bongani Qeqe (47), ’n pa van twee minderjarige kinders, is ook skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die aanklagte teen hom hou verband met ’n voorval op 3 November 2016. Hy het ’n negentienjarige vrou in Booysenpark genader, gesê hy is ’n sangoma en dat sy of haar suster (13) teen 17 November 2016 sou sterf.

Volgens die getuienis was die susters se ouers in Transkei en het hulle hom uit hoofde van sy posisie as tradisionele geneser vertrou.

Qeqe het die dertienjarige suster gestuur om ’n lemmetjie te koop. Hy het albei susters in ’n slaapkamer gevra om te ontklee en het hul liggame gesny om medisyne daarin te plaas.

Volgens die getuienis het hy ook sy vingers met medisyne in hul geslagsdele gedruk nadat hy gevra het of hulle kinders wou hê.

Landdros Lionel Lindoor het in sy uitspraak gesê dat Qeqe teen die susters se wil sy vingers in hul geslagsdele gedruk het. Hulle het hom toegelaat omdat hulle bang was hulle sou sterf.

Lindoor het bygevoeg die susters as getuies het hom beïndruk en daar was niks wat bewys dat hulle hul getuienis met mekaar bespreek het nie.

Hulle het ook onmiddellik na die voorval hul pa en ’n dokter daarvan vertel.

Daarenteen het Qeqe Lindoor glad nie beïndruk nie. Hy het Qeqe as ’n ontwykende getuie beskryf wat die voorval as onbelangrik afgemaak het.

Qeqe kon ook nie verduidelik waarom dit noodsaaklik was vir medisyne om in die susters se geslagsdele geplaas te word nie.

Hy het vorige veroordelings vir diefstal en aanranding met die doel om ernstig te beseer en is in 2010 op ’n aanklag van verkragting skuldig bevind.

Hy sal aanstaande maand gevonnis word.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!