Sanral dreig oor ou tolskuld

e-tollMotoriste sal siviele dagvaardings ontvang indien hulle nie teen middernag hulle agterstallige e-tolskuld gedelg het nie, dreig die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral).

 

Die voorsitter van die Organisasie teen die Misbruik van Belasting (Outa), Wayne Duvenage, is egter van mening dat indien Sanral sy dreigement sou uitvoer, sal dit enigiets van tien tot vyftien jaar neem om al die dagvaardings uit te reik.

 

Hy beskou die vergunning wat motoriste gehad het om vir ‘n bepaalde tydperk afslag van 60% op hulle agterstallige e-tolskuld te kry as ‘n vinnige metode om geld te maak. Voorts verwag hy ook nie dat motoriste baie opgewonde oor die aanbod was nie en skat dat slegs sowat 35% daarvan gebruik sal maak. 

 

Duvenage het vroeër gesê ‘n regstryd oor elektroniese tolgeldrekeninge, waaronder een teen ‘n dagvaarding ten bedrae van R8 miljoen, word deur Outa beoog. Hy het die media meegedeel dat Sanral verwittig is van die voorneme om sy lede te verdedig.

 

Die organisasie se regslui het kennisgewings van voorneme namens die lede beteken nadat hulle dagvaardings vir rekeninge ten bedrae van R400 000 tot R8 miljoen ontvang het. Bron – Vryburger

Enjoyed this post? Share it!