Sanral en SAPD dreig padgebruikers met massa-sms’e om agterstallige etol-gelde te betaal

ʼn Uiters onsensitiewe veldtog word tans gevoer deur klaarblyklik Sanral en die SAPD waarin padgebruikers met massa-sms’e gedreig word om agterstallige etol-gelde te betaal, asook dat daar strafregtelik teen hulle opgetree gaan word indien ʼn sekere polisiebeampte nie gekontak word nie, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Die sms wat glo van Sanral afkomstig is lui: “You have overdue e-toll fees and you are now in a debt collection process. Call Sanral on 0800 726 725”.

Die SMS wat glo van die polisie afkomstig is lui: “A case has been opened against you @ SAPS, for more info contact Captain Sithole on 0634201925.”

Adv. Albers sê dit is in die eerste plek uiters onsensitief om so ʼn veldtog, indien dit eg is, oor die feestyd te voer, en dit toon aan hoe gevoelloos en minagtend Sanral teen padgebruikers optree.

“Sanral is bewus van die komende hofsaak wat as toets gaan dien oor die geldigheid van die e-tolstelsel maar gaan steeds onverpoosd voort om sy sogenaamde kliënte te dreig.

“Die VF Plus sal die egtheid van die ‘polisie’-sms ondersoek, en indien dit blyk dat dit wel deur Sanral geïnisieer is, sal die party strafregtelike klagte teen Sanral indien vir ondermyning van die reg.

“Daar bestaan geen klousule in die Strafproseswet wat kennisgewings per sms van ʼn strafregtelike klag toelaat nie. Die polisie sal geen sekerheid hê dat die ‘aangeklaagde’ wel die kennisgewing (sms) ontvang het nie weens die onsekerheid of dit suksesvol gestuur is of nie.

“Wat die siviele eis deur invordering aanbetref, is die optrede in swak smaak indien dit wel van Sanral afkomstig is. Sanral is duidelik ʼn ongevoelige instelling net soos sy aandeelhouer in die vorm van die ANC-regering.

“Die VF Plus wil die publiek waarsku om nie gelde in enige rekening oor te betaal bloot op grond van ʼn sms nie. Die sou te maklik wees vir misdadige elemente om op hierdie wyse liggelowige mense te bedrieg,” sê adv. Alberts.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!