SAPD kry die ‘Rolls Royce van koeëlvaste baadjies’

Hoewel Suid-Afrika in ’n ekonomiese krisis is en ook gratis onderrig vir 2018 belowe, het die polisie dit steeds goedgedink om vir sy lede “die wêreld se duurste koeëlvaste baadjies” te kry.

Volgens Sunday Times is sowat R6,7 miljoen beskikbaar gestel vir 200 hoëtegnologie-baadjies vir ballistiese toetse.

Nog ’n bestelling, wat glo R33 miljoen kos, van MKU, ’n Indiese verskaffer, is ook ter sprake.

Die polisie het glo meer as R33 402 vir elke baadjie betaal.

Inbanathan Kistiah, ’n Durbanse sakeman en ook middelman van dié transaksie, kry na bewering ’n groot gedeelte van dié bedrag.

Sy maatskappy, I-View Integrated Systems, wat in die installering, verskaffing en onderhoud van sekuriteitskameras spesialiseer, het glo R2,45 miljoen vir die 200 baadjies aan MKU betaal.

Kistiah het glo nog R1,9 miljoen aan doeanekostes, lugvervoer vanaf Indië, en ander operasionele kostes spandeer.

Verder het hy na bewering nog R2,35 miljoen, of R11 725 per baadjie, wins bygelas.

Die koeëlvaste baadjies wat die polisie tans gebruik, kos tussen R6 000 en R8 000 elk en weeg 8,2 kg. Die nuwe duurder baadjies weeg amper die helfte minder met net 4,2 kg.

Kistiah beskryf die baadjies as die “Rolls Royce van koeëlvaste baadjies”.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!