SAPD stil oor misdaad op Vrystaat plase

Die minister van polisie, Nathi Nhleko, swyg na meer as ‘n maand steeds nadat die veiligheidsafdeling van die VKB/Vrystaat Landbou (VL) ‘n voorlegging oor misdaad op Vrystaatse plase aan hom oorhandig het.

Die kwessie is egter al geskeduleer op die agenda van die vergadering van die VL se komitee vir reg en orde in Julie met die polisie se hoofbestuur, aldus ‘n VL woordvoerder, Alani Janeke.

Nhleko het op 1 April onderneem om terugvoering oor die voorlegging te gee toe hy en verskeie ander provinsiale saakgelastigdes met VL vergader het.

Volgens Janeke bevat die voorlegging sake wat ernstige aandag en ingryping van die regering benodig omdat dit ‘n negatiewe invloed het op die Vrystaat se voedselsekerheid.

Een van die kernsake wat in die voorlegging vervat is, handel oor veediefstal. Onderaanmelding daarvan in die Vrystaat word op tussen 67% tot 70% geraam weens ‘n tekort aan personeel en toerusting by veediefstaleenhede.

In die voorlegging vra VL dat grenspatrollies deur die SANW en die polisie langs die grens tussen Lesotho en die Vrystaat uitgebrei moet word om oorgrensmisdade te bekamp. Die grens is ‘n brandpunt waar die meeste georganiseerde misdaad in die land voorkom.

Nog ‘n saak wat die VL onder die polisie se aandag probeer bring het, is dat die skutwet nog nie afgehandel is nie. Dit kortwiek doeltreffende optrede deur die polisie en die SANW om misdaad in die Vrystaat te bestry.

 Bron. Vryburger


Enjoyed this post? Share it!