SAUK Nuus Brokkies in die nuus oor die afgelope paar dae


Brokkies in die nuus die afgelope paar dae saamgestel deur 12 Artikels in die nuus

Artikel 1

Alle misdade wat Suid-Afrikaners vrees soos moord, huis- en sakerooftogte en motorkapings het vir die derde opeenvolgende jaar gestyg. Moord het vir die derde opeenvolgende jaar met 4.6% gestyg ?

Misdaad-statistiek skok

Meer as 161 000 mense is sedert 2004 in Suid-Afrika vermoor terwyl 5 900 misdade elke dag by die polisie aangemeld word. Die verbysterende feite is deur crimestatssa bekendgemaak. Die misdaad statistiek wys dat die meeste moorde in Nyanga in die Wes-Kaap gepleeg word.

Die syfers toon dat 47% van alle dwelm-verwante misdade in die Wes-Kaap voorkom. Meer as 43 mense word daagliks in Suid-Afrika vermoor. Die gemiddelde syfer vir moord in die wêreld is 7.6 per 100 000 mense. In Suid-Afrika is die syfer 36.5 vir elke 100 000 mense.

Suid-Afrika het in die afgelope 18 jaar R650 miljard weens korupsie verloor. Sowat 16 000 mense is oor ‘n tydperk van ‘n jaar in die boekjaar 2011 en 2012 vermoor. KwaZulu Natal het die hoogste moordsyfer in die land, gevolg deur Oos-Kaap en Gauteng.

Meer as 400 dwelmsake word daagliks aangemeld. Mitchelsplein polisie melt die meeste sake aan. Daar is 29 verskillende misdaad kategorië. Daar is  1 118 verskillende polisiestasies in die land.

 

Artikel 2

AfriForum het opnuut ʼn beroep op die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, gedoen om plaasmoorde te prioritiseer.

Dít volg nadat ’n bejaarde egpaar en hul vriendin die naweek op hul wildsplaas naby Thabazimbi aangeval is. Bruno Res (73) is in die arm en sy vrou Petru (60) in die kop geskiet. Die egpaar is deur vyf mans oorval toe Petru en ’n vriendin Vrydagaand by die plaas aangekom het. Al drie die slagoffers is ná die aanval in ’n instapkluis toegesluit. Petru het op die toneel aan haar beserings beswyk.

Sedert die begin van 2015 het 157 plaasaanvalle voorgekom, terwyl 44 moorde tydens hierdie aanvalle gepleeg is.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het plaasmoorde as ʼn nasionale krisis beskryf en die departement van polisie se versuim om hierdie misdaad te prioritiseer, as ʼn vorm van aandadigheid bestempel. Roets het gesê dat daar hoofsaaklik vier redes bestaan waarom die prioritisering van plaasmoorde van kritieke belang is.

“In die eerste plek dui onafhanklike navorsingsinstellings se berekenings daarop dat ʼn boer se kans om vermoor te word, meer as dubbeld dié van ʼn polisiebeampte is. Tweedens word hierdie moorde dikwels met buitengewone vlakke van brutaliteit gepleeg. Derdens het boere ʼn kardinale rol om in die samelewing te speel, veral met betrekking tot werkskepping en voedselsekerheid. Vierdens weet ons dat boere in verafgeleë gebiede woon, ver van hul bure en ver van die naaste polisiestasie.”

“Ten spyte hiervan weier die minister, die departement van polisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor die algemeen om hierdie misdade met die nodige erns te beveg,” het Roets bygevoeg.

Roets het ook ʼn beroep op die minister van landbou, bosbou en visserye, Senzeni Zokwana, gedoen om met daadwerklike aksie in te gryp. Dít, nadat Zokwana verlede week tydens ʼn landboubyeenkoms in die Wes-Kaap sy kommer oor die vlaag van geweld op plase uitgespreek het.

“Die minister sê gereeld dat boere en instansies soos AfriForum en die regering moet byeenkom om oplossings vir hierdie krisis te vind. Die tyd vir praat is verby. AfriForum voer reeds sy eie veldtog op plaaslike en internasionale vlak. Wat die regering betref, is die bal nou in die minister se hande om te sê hoe rolspelers moet saamwerk.”

Roets het afgesluit deur te noem dat AfriForum in die komende week verdere aksies teen die departement en die SAPD se versuim sal neem. – Vonkpos

Artikel 3

Minderheidsregte, selfbeskikking en Afrikaners

Die veelgeroemde Suid-Afrikaanse Grondwet skiet ver tekort wat die beskerming van minderhede aanbetref en dit het daartoe gelei dat Afrikaners se kultuur, -taal, en hul oorlewing onder druk verkeer. Daarom is dit belangrik om na oplossings hiervoor te soek, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder het vandag by ʼn simposium van die groep OASE, wat selfbeskikking voorstaan, gesê die Afrikaner het alle werklike politieke mag verloor, en in die soeke na oplossings vir sy voortbestaan moet hy realisties ten opsigte van die land se werklikhede wees. Die oplossings moet modern en regverdig teenoor die Afrikaner en ander wees en in lyn met internasionale oplossings.

Ander sprekers by die simposium was me. Moira Daya wat gepraat het oor die Khoisan se Eerste Nasie-status en sy reg op selfbeskikking, dr. Gregory Santon van Genocide Watch en mnr. Cor Ehlers van OASE. Dr. Mulder het gesê dit is nie nodig om die wiel van vooraf uit te vind nie, maar kan van lande met soortgelyke probleme lesse leer. Toepaslike oplossings kan oorgeneem en aangepas word vir eie omstandighede.

“Suid-Afrika se Grondwet is nie die beste in die wêreld nie. Omdat die Nasionale Party se onderhandelingsuitgangspunt slegs die beskerming van individuele regte was, is die geleentheid in 1994 gemis om van hierdie internasionale minderheids- en selfbeskikkingsoplossings te inkorporeer.

“Die Afrikaner sal sy eie toekoms moet skep en nie sy hoop op die regering of ander groepe plaas om hom te red nie. Om dit te doen is ’n groter konsensus onder mekaar oor die Afrikaner se plek en rol in Suid-Afrika en Afrika nodig en dit moet saamgevat word in ’n breë saambindende droom. Ten einde realisties te wees, moet ons daarbinne genoeg ruimte vir verskille toelaat,” het dr. Mulder gesê.

Hy het gesê dit sal sterk organisasies benodig wat op elke terrein kan optree, en wat nie skaam sal wees om die breër saambindende Afrikanerdroom te dien en uit te dra nie. ’n Selfsorg-en doen-kultuur moet hiervoor geskep word. Volgens dr. Mulder kan selfbeskikking nie van die rak af gekoop word nie en daar is verskillende selfbeskikkingsfases waardeur gegaan moet word om die einddoel te bereik.  – Vonkpos

Artikel 4

Erkenning van Kleinfontein as kultuurgemeenskap

Die VF Plus het vandag die erkenning van die Kleinfontein nedersetting as kultuurgemeenskap deur die Gauteng Wetgewer verwelkom, sê Jaco Mulder, VF Plus LPW in Gauteng. Dit volg na ‘n omstrede ondersoek wat tydens November 2012 na die beweerde nie-toelating van die SAPD lede tot die perseel van Kleinfontein, vandag in verslagvorm voor die Wetgewer gedien het.

Mulder het die verslag as positief bestempel en gesê dat daar niks gekom het van die aanvanklike aggressie waarmee die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid die ondersoek, wat ingevolge die Wet op Komitee-ondersoeke 8 van 2009 gemagtig is, aangepak het. Mulder wat deurgans ‘n lid van die ondersoekkomitee was, het verder gesê dat talle verkeerde persepsies oor Kleinfontein in die proses uitgeklaar is wat die tafel dek vir Kleinfontein om as kultuurgemeenskap binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse grondwet te kan voortbestaan.

Die VF Plus het tydens die grondwetskrywende proses van 1996 daarin kon slaag om artikel 185 en 235 in die Suid-Afrikaanse grondwet in te skryf wat ondermeer die regte van geloof-, taal- en kultuurgemeenskappe erken asook die reg op selfbeskikking. Die VF Plus is daartoe verbind om die reg tot selfbeskikking van volke en spesifiek van die Afrikaner te bevorder wat die voortgesette bestaan van ondermeer gemeenskappe soos Orania en Kleinfontein verseker. – Vonkpos

Artikel 5
SELFBESKIKKING KONSTRUKTIEF DEEL VAN OPLOSSING

Die strewe na die selfstandigheid in al sy vorme en selfbeskikking van ‘n kultuurgemeenskap is legitiem en kan konstruktief bydra tot groei in Suid-Afrika, sê mnr Jaco Mulder, LPW en partyleier vir Gauteng. Mulder het gereageer op ‘n volblad artikel oor Kleinfontein en Orania in die Pretoria News van 21 Mei 2013 met die opskrif  “Pretoria’s own Orania exposed”.

Daar word telkens in die media negatief berig oor Afrikaner kultuurgemeenskappe wat daarna streef om ‘n groter mate van selfstandigheid te behaal terwyl Xhosa, Zoeloe en ander gemeenskappe die roede gespaar word. Die bestaan van ‘n ‘black lawyers forum” en BBBEE wat ‘n suiwer assosiasie is, word verdra terwyl ‘n kultuurassosiasie van ‘n groep as rassisties beskou word.

Die VF Plus bevorder die beginsel dat enige groep selfstandigheid kan nastreef en besonder die Afrikaner wat toenemend deur middel van rasgebaseerde regstellende aksie wetgewing van deelname aan die ekonomie ontneem word.

Sedert die ANC in 1994 aan bewind gekom het verloor Afrikaans toenemend sy status as onderrigtaal met verreikende gevolge.  Alle Afrikaansprekendes lei daaronder, nie net Afrikaners. As Afrikaners nie gemaklik voel met die afrikanisties-sosialistiese waardestelsel van die ANC of die liberaal-afrikanistiese stelsel van die DA, is dit onbillik om dit as rassisties te beskryf.

Afrikaners het tot nou ‘n reuse bydrae gelewer tot die ontwikkeling van Suid-Afrika en kan verder as ontwikkelingsgemeenskap bydra indien hul onbedreig as kultuurgemeenskap oor hul eie sake kan seggenskap behou.

Die VF Plus se affiliasie by UNPO (Unrepresented nations and people’s organisation www.unpo.org) lewer ‘n waardevolle bydrae om die Afrikaner se reg op selfbeskikking op die nasionale agenda te plaas. Die VF Plus het ook gedurende die grondwetskrywende proses van 1996, artikel 185 wat die regte van taal-, kultuur- en geloofsgemeenskappe beskerm en art 235 wat selfbeskikking bevorder, in die SA grondwet ingeskryf

 

Artikel 6

Selfbeskikking en volkstate nie ‘n nuwe verskynsel

Dit is jammer dat terminologie soos ‘selfbeskiking’ en ‘volkstate’ nie deur Suid-Afrikaners  verstaan word nie en daarom die weerstand teen dorpe soos Orania en Kleinfontein. Dié terminologie is egter geen nuwe verskynsel in Europa en Amerika nie.

So het dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus en Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Vissery, Saterdag op Kleinfontein naby Rayton gesê. Hy het die Demokratiese Alliansie veroordeel dat hulle regstellende aksie aanmoedig, ‘maar dit bloot anders wil hê’. Tot dusver het die DA nog nie aangedui hoe hulle dit anders wil doen nie.

 

Hy het ook na die pleknaam-krisis verwys en verduidelik hoe hy pres. Jacob Zuma tydig en ontydig genader het om die Pretoria se naamverandering stop te sit. In die Kaap is die DA egter besig om self ook straatname te verander. Dr. Mulder het na burgemeester Patricia de Lille gekap oor haar uitlating dat Christelike vakansiedae en Republiekdag nie meer erken moet word nie. Tog het sy nie ‘n ‘probleem’ met Soweto-dag nie.

In die lig van die De Doorns-staking het dr. Mulder na die boerdery metodes in China verwys waar so veel as moontlik mense betrek word. Hulle verdien ‘n klein salaris en ander wat nie ‘n loon ontvang nie, kry net kos. Sulke arbeid intensiewe boerdery is baie suksesvol.

In Suid-Afrika kan dit huidiglik nie werk nie as gevolg van regering- inmening wat boere dwing om meer gemeganiseerd te boer en so die werker uit te skakel. Hy het die regering veroordeel na hul inmening by De Doorns. Die regering het kospakkies en geldelike bystand aan stakers gelewer tydens die staking.

Die meerderheid van die stakers was ook nie permanente plaaswerkers nie, maar werklose seisoenwerkers. Sommige stakers is selfs met busse van die Kaap aangery en het hul eie buitebande saamgebring om te brand.

 

Artikel 7

Regstellende aksie bly al word teikens oorskry

Daar is nog geen teken van ʼn skemering oor regstellende aksie (RA) nie, nieteenstaande die feit dat demografiese teikens in die staatsdiens lank reeds bereik is en wit en bruin minderhede selfs onderverteenwoordig word. Dit blyk uit ʼn antwoord van die minister van arbeid, Mildred Oliphant, op ʼn skriftelike parlementêre vraag van adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid. Adv. Alberts se vraag lui onder meer of daar weggedoen gaan word met RA aangesien teikens in die staatsdiens reeds bereik en oorskry is, en indien nie, hoe dit grondwetlik geregverdig kan word om daarmee te volhard. Hierop het Oliphant geantwoord:

“Nee, ek sal dit nie oorweeg om weg te doen met RA in die staatsdiens nie. RA is ʼn nasionale aangeleentheid. Indien die staatsdiens die teikens bereik het, behoort dit as aansporing te dien vir ander sektore en dit is dus geen rede om met die beleid weg te doen nie.

“Die aanhef tot die Grondwet dui op die grondwetlike gebiedendheid vir RA”.Adv. Alberts sê die antwoord is baie kras en die implikasie is dat RA in plek sal wees solank die ANC regeer. Daar word nie eens ag geslaan op die feit dat daar reeds swart oorverteenwoordiging in die staatsdiens is nie.

“Hierdie staan in kontras met die artikel 1(4) van die Internasionale Verdrag oor die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie (International Convention on the Elimination of All Forms of Racial Discrimination (VUVR/CERD)) wat bepaal dat sodra ʼn regstellende doelwit bereik is, moet die toepassing van RA beëindig word. Artikel 195(1)(i) van die Grondwet stel dit duidelik dat die staatsdiens breedweg die Suid-Afrikaanse bevolkingsamestelling moet reflekteer. Hierdie doelwit is reeds oorskry aangesien daar ʼn tekort aan wit en bruin werkers in die staatsdiens is.”

“Dit is onhoudbaar dat die situasie voortduur. Die VF Plus gaan die situasie in ʼn skrywe aan die VUVR-komitee rig en om ʼn regsmening vra. Indien die VUVR-komitee die VF Plus se siening deel, sal die party vra vir formele optrede teen die ANC-regering om die diskriminasie te staak,” sê adv. Alberts.

In Oktober verlede jaar (ook aan die hand van ʼn geskrewe vraag) het dit reeds geblyk dat die teikens bereik is en dat wit en bruin toe reeds met ʼn halwe ʼn persentasiepunt onderverteenwoordig was. Waar wittes (toe) 9,2% van die land se bevolking was, was hul verteenwoordiging in die staatsdiens net oor 8,8%

 

Artikel 8

Seun dood in tronk          

Trudie van Staden, kry nog geen antwoorde nie na haar seun in April onder raaiselagtige omstandighede in die selle van die Barrage Polisiestasie dood is.

Jacques van Staden (30) het die vorige dag sy pa, Buks se bakkie kom leen omdat hy Nelspruit toe moes gaan vir ’n werksonderhoud.

Vroegoggend op 28 April het die polisie aan hul deur kom klop om die skok-nuus aan hulle oor te dra dat Jacques, hul oudste seun, vir wie Trudie 15 jaar lank gewag het, “homself in die selle gehang het, nadat hy weens beweerde dronkbestuur in hegtenis geneem is…”
Volgens Buks is hulle dadelik na die polisiestasie waar hy sy seun in ’n sittende posisie in een van die selle, met ’n kombers om sy nek, gekry het.
Die polisie beweer Jacques het die kombers in stukke geskeur en homself daarmee gehang, maar Buks twyfel of dit die waarheid is.

Hy sê by die polisiestasie het dit gelyk asof Buks se bakkie in ’n ongeluk betrokke was. Die voorkant is gestamp, die venster aan die bestuurder se kant was gebreek en daar was bloed op die grond.

Hy wou weet of dit sy kind se bloed is, waarna hulle bevestig het dit is syne. Tog word daar nêrens melding gemaak van ’n ongeluk nie. Hy het een van die polisiebeamptes gevra om hom te gaan wys waar hulle Jacques van die pad afgetrek het.

Volgens dié polisiebeampte het hulle Jacques langs die pad in die bakkie gekry, maar die polisieverslag sê duidelik hulle het hom afgetrek, so iewers is ’n slang in die gras, sê Buks.
Die polisieverslag meld ook dat Jacques vir bloedtoetse geneem is, maar geen uitslag of bloedmonster is in sig nie. Volgens die sogenaamde nadoodse ondersoek was daar baie bloed in Jacques se longe. Sy lewer was gekneus en bloederig en sy neus was gebreek.

Hy het verder krapmerke op sy wang en aan sy nek gehad.

“As my seun dan in ’n ongeluk was en hulle het hom gevat om bloed te laat trek, sou die mediese personeel seker sy wonde ook behandel het? Daar is geen teken van bloed in die bakkie nie en die sel waar ons hom gekry het, was ook netjies.

As hy homself dan gehang het, hoekom was sy hande by die kombers by sy nek ingedruk, so asof hy probeer keer het en hoekom was sy gesig nie blou nie? Hoekom sou hy homself hang? Iewers steek iemand iets weg, meen Buks, wat honderde onbeantwoorde vrae het.
Die Van Staden-egpaar glo hul seun is aangerand en toe vermoor. “Jacques was ’n vriendelike kind. Hy sou altyd ander help waar hy kan en hy het nog nooit selfmoordneigings gehad nie. Ons kry nie berusting nie en dit maak dit soveel moeiliker om sy dood te verwerk,” sê Trudie.

 

Artikel 9

Wraaksugtige Valkebaas

Genl.maj. Berning Ntlemeza, die nuwe Valke-baas, is steeds van plan om met belastingbetalersgeld ’n hofaksie teen Booysen aan die gang te sit.

Genl.maj. Johan Booysen, KwaZulu-Natalse Valke-baas beveg sy summiere skorsing. Sy saak sal vandeesweek in die hof aangehoor word.

Booysen het twee verklarings wat sy weergawe van gebeure woordeliks bevestig.

Maar Ntlemeza hou vol dat daar ’n “duidelike prima facie-saak” teen Booysen is wat “dringend ondersoek moet word”.

Hy beskuldig Booysen daarvan dat hy bedrog gepleeg het toe hy “doelbewus” die verkeerde saaknommer op ’n dokument neergeskryf het om die polisie kwansuis uit sowat R15,000 te kul.

Booysen sê in sy verweer dat die dokument is nie deur hom opgestel nie, maar deur ’n lt.kol. W. Olivier; asook dat wat Ntlemeza as “bedrog” en “verkeerde saaknommers” beskryf, is in der waarheid ’n tikfout waar die syfers 8 en 9, om Augustus en September aan te dui, omgeruil is;

Hy sê ook dat hy nooit die dokument geteken het nie, maar sy bevelvoerder, voormalige assistent-kommissaris Pat Brown, het;

Boonop is die dokument deur minstens twee hoëvlak-komitees goedgekeur en

Ntlemeza het bymotiewe weens polities sensitiewe ondersoeke op Booysen se tafel.

Volgens bronne het Olivier en Brown nou ook onafhanklik van mekaar en in beëdigde verklarings bevestig dat Olivier die dokument geskryf en dat Brown dit geteken het. Die tikfout is ook verduidelik.

Ntlemeza sal blykbaar, wanneer die saak vandeesweek weer voor die hof dien, aanvoer hy is “bewus” van die verklarings, maar meen steeds Booysen moet geskors word hangende ’n ondersoek.

 

Artikel 10

Huishulp in hegtenis vir moord

Die wreedheid en die groot hoeveelheid terroriste betrokke by plaasaanvalle en -moorde is net onverstaanbaar.

In die moord op Petro Res (60) wat op 18 September op ‘n plaas buite Thabazimbi doogeskiet is, is haar huishulp en dié se man saam met nog twee mans in Diepkloof in Soweto in hegtenis geneem. Die polisie soek na nog vyf mans wat glo by die moord betrokke was.

Nege terroriste om een gesin aan te val. Petro se man Bruno (73), is in sy arm geskiet.

Petro se bebloede lyk is saam met die swaar gewonde Bruno en ’n vriendin van die egpaar, Marie Barnard, in ’n instapkluis in die huis op die Motlopi Lodge-wildplaas toegesluit.

Barnard is 16 uur lank saam met Petro se lyk en die gewonde Bruno in die kluis toegesluit.

Die terroriste het met vyf vuurwapens en juwele gevlug. Hulle het Petro en Bruno gedwing om die instapkluis in ’n slaapkamer oop te sluit. – Vryburger

Dit is weer ‘n bewys dat ‘n mens selfversorgend moet wees en jou eie werk moet doen en nie staat maak op bediendes om dit vir jou te doen nie

 

 Artikel 11

SA ‘n baie onveilige plek

Die enigste plekke waar mense onveiliger voel as in Suid-Afrika is in die Demokratiese Republiek van die Kongo, Gaboen en Venezuela.

In Gallup se wêreldwye reg- en geregtigheidsindeks wat pas bekend gestel is, is Suid-Afrika vierde op die lys van lande waar mense te bang is om ná donker huis toe te loop.

Meer as 142 000 volwassenes in 41 lande is in die peiling gevra oor hul ervaring van persoonlike veiligheid, misdaad en wetstoepassing.

Suid-Afrika is in die vierde plek nadat net 31% van Suid-Afrikaners gesê het dit is snags veilig genoeg in hul woonbuurte om dit buite hul huise te waag.

Dr. Chris de Kock, ’n onafhanklike misdaadontleder, sê die indeks se syfers strook met die mening van kenners in Suid-Afrika.

Hy verwag die nuwe polisiestatistieke sal ernstige stygings wys in die getal rooftogte, asook gevalle van moord en poging tot moord in die afgelope jaar. Misdaadsyfers vir Sentraal-Transvaal, wat vroeër vanjaar uitgelek het, het ’n 10%-styging in kontakmisdade in dié provinsie getoon. – Vryburger

 

 Artikel 12

Koop-opsie nou onwettig

As iemand gedink het hy kan sy buurman voorspring deur ’n opsie te neem op die plaas wat in die mark is, het hy hom misgis, want die opsie op landbougrond is nie meer toelaatbaar nie, en is onwettig.

Die opsie kan gegee word aan ’n voornemende koper met die vooraf toestemming van die Landbou Minister.

Die Appèlhof in Bloemfontein het ’n verbod geplaas op die gebruik om ’n opsie te neem op ’n gedeelte van ’n stuk landbougrond, en kan slegs toegelaat word met ministriele goedkeuring.

Ingevolge wetgewing kan geen gedeelte van enige landbougrond verhandel word sonder die goedkeuring van die Minister van Landbou nie, want dit is ’n voorsorgmaatreël wat ingestel is om te verseker dat plase nie in klein stukkies opgebreek word wat onproduktief is nie.

Die proses wat deur wetgewing beheer word, sloer dikwels baie lank, en min gevalle is bekend waar goedkeuring vanaf die Minister verkry is binne 10 maande, en dikwels duur dit veel langer.

Die probleme wat ondervind word is vir die potensiële koper en die verkoper ewe groot, want die koper mag nie intussen met voorbereidings begin om ’n oes gereed te kry nie, en verkopers het dikwels nie die middele om gereed te maak vir nog ’n oes nie, wat meebring dat die plaas vir ’n volle seisoen onproduktief lê.

Boere het egter begin om die wet te omseil deur bindende opsies te neem op grond wat hulle wil aankoop, en daarvoor is die Minister se toestemming nie nodig nie, wat beteken dat die boerdery aktiwiteite ongehinderd kan voortgaan.

Die hof het onlangs beslis dat so ’n bindingsklousule onwettig is en in stryd is met die Wet op Onderverdeling van Landbougrond (Wet 70) wat sedert 1970 in werking is.

Ingevolge die Wet is alle bestaande opsie-ooreenkomste op enige stuk landbougrond onwettig as die Minister nie sy goedkeuring daarvoor gegee het nie.

Niemand mag dus in die toekoms ’n opsie-ooreenkoms aangaan sonder die Minister se goedkeuring daarvoor nie.

Die vloei van die transaksies word hierdeur geraak, en boere sal tevrede moet wees met die feit dat hulle boerdery op die nuwe stuk grond nie mag begin voordat die Minister sy goedkeuring gegee het nie, en dit kan selfs ’n jaar neem om te gebeur.

Boere wat vinnig van hulle grond ontslae wil raak, sal noodgedwonge die hele plaas in die mark moet sit, of bereid wees om te wag vir goedkeuring.

Enjoyed this post? Share it!