Schalk Jacobsz in slaap oorlede

Die veteraan van die Afrikaanse toneel, Schalk Jacobsz (80 jaar) is in sy slaap oorlede in sy huis in Westdene, Johannesburg.

Sy vrou, die aktrise Elma Potgieter, sê hy is aan ‘n hartkwaal oorlede nadat hy die afgelope tyd ongesteld was.

Jacobsz was bekend vir die vertolking van rolle in televisiereekse soos Die siel van die mier, rolprente soos Die bankrower en Die banneling asook verhoogproduksies soos onder meer PG du Plessis se Nag van legio.

Hy het ook naam gemaak met sy stemvertolkings as Knersus in die kinderreeks, Oscar en Knersus.

Hy en sy vrou het verlede jaar tydens die RSG Kunstefees ‘n Afrikaanse verwerking deur Uys Krige van Lorca se Reis sonder einde opgevoer.

Jacobsz was sedert 1959 in die toneelbedryf. Vanaf 1980 het hy en Potgieter probeer om onafhanklik op te tree en het onder meer Afrikaanse toneelstukke opgevoer.

Jacobsz word oorleef deur sy vrou en drie kinders.

Foto – Schalk Jacobsz en Elma Potgieter

Bron: Vryburger


Enjoyed this post? Share it!