Schutte ‘verbaas’ dat regter Jansen ‘slagoffer’ speel& My ma nie rassis

Jansen dogter JansenDie vrou wat ’n regter van die hooggeregshof in die pekel laat beland het oor haar uitlatings, sê sy is verbaas dat regter Mabel Jansen nou maak asof sý die slagoffer is.

Die skrywer en rolprentmaker Gillian Schutte sê Jansen moet verantwoordelikheid neem vir haar dade.

“Die waarheid is dat sy sélf haar rassistiese gevoelens op ’n openbare forum blootgelê het.”

Schutte sê sy word in die beskuldigdebank geplaas omdat sy kwansuis ’n private gesprek tussen haar en Jansen openbaar gemaak het.

 “Die werklikheid is dat die sogenaamde private gesprek tussen my en Jansen (wat sy later op Facebook geplaas het) geen inligting bevat wat sy nie reeds in die openbaar op Facebook gesê het nie.

“Sy het in die private gesprek met my net ’n opsomming gemaak van haar rassistiese stellings wat op Facebook was dat verkragting deel is van swart mans se kultuur.”

Rapport het ’n afskrif bekom van Jansen se inskrywings op Facebook op 24 Mei verlede jaar toe sy aan ’n gesprek oor ras deelgeneem het.

’n Inskrywing wat sy om 06:15 gemaak het, lui: “Armoede het baie daarmee te doen.

“Maar dit verskoon nie die gedrag nie. En niemand skryf vir my voor nie.

“Feit: apartheid bestaan. Feit: Swart kinders en vroue word tot so ’n mate deur swart mans geslaan en mishandel dat dit walglik is en te veel vir jou raak.”

In nog ’n inskrywing sê sy: “Ek is ’n regter by die Pretoria hooggeregshof. Ja, daar is baie wit molesteerders, maar in ons kultuur was dit nog nooit beskou as iets wat heeltemal in ­orde is nie.

“Wys my een swart vrou wat nie gemolesteer is nie, wie se ma of suster nie gemolesteer nie, ens.

“Natuurlik is daar uitsonderings. Maar dit is die standpunt wat kultureel ingeneem word.”

Schutte sê dié uitbarsting is deur en deur rassisties.

“Sy maak ongelooflike rassistiese stellings oor die moraliteit van ’n hele vasteland se mense.”

Schutte sê haar regsverteenwoordiger het namens haar ’n klagte by die Regterlike Dienskommissie (RDK) ingedien oor die aanmerkings.

Sy sê sy het eers nadat die storie verlede naweek in die media gebars het, gehoor dat die RDK nog op ’n eedsverklaring van haar wag.

Sy blameer haar regsverteenwoordiger daarvoor omdat sy haar nie daarvan ingelig het nie.

“My motiewe word nou bevraagteken omdat daar ’n indruk gewek is dat ek ’n jaar lank niks aan die saak gedoen het nie.”

Sy sê ná Jansen se stelling op Facebook het sy Jansen as vriend verwyder en vriende in die regsomgewing daarvan vertel in die hoop dat die saak verder gevoer sou word.

“Ek was uiters verbaas dat hulle my klagtes bloot geïgnoreer het.”

Sy het weer in September die aangeleentheid op haar Facebook-blad geopper en ’n joernalis wat dit raakgelees het, het haar laat weet dat sy belang stel om ’n berig daaroor te skryf.

Niks het hiervan gekom nie.

Ná die bohaai oor die aktiviste Wandile Dlamini en Ntokozo Qwabe wat geweier het om ’n footjie aan ’n kelnerin te gee “voordat sy (ons) grond teruggee nie”, het sy weer na die saak op Facebook verwys.

Sy wou weet waarom daar só ’n geweldige bohaai hieroor gemaak word, maar niemand sê of doen iets wanneer ’n regter sê verkragting is deel van swart mans se kultuur nie.

Dié boodskap het versprei en tot die huidige bohaai gelei.

“My oorspronklike klagtes is toe vir die eerste keer ernstig opgeneem,” sê sy. – Bron : Netwerk 24

’n Jong swart vrou wat by geboorte deur regter Mabel Jansen aangeneem is, sê haar ma is beslis nie ’n rassis nie – al het sy “veralgemeen” oor swart mans se rol in kinderverkragtings.

JA, (MY MA) HET OORDRYF EN VERALGEMEEN OOR SWART MANS, MAAR DIT BLY ’N VERSKRIKLIKE PROBLEEM.
Lulu Xulu

“Ek staan by haar ongeag hoe mense my veroordeel. Sy is my ma en ek weet wat in haar hart is,” sê Lulu Xulu (28), die dogter van Jansen se huishoudster, Sibongile, wat as baba wettiglik deur Jansen en haar man aangeneem is. Lulu is die eerste lid van die regter se familie wat haar in die openbaar verdedig.

’n Reuse-storm woed sedert verlede naweek om Jansen se kop nadat die skrywer en rolprentmaker ­Gillian Schutte ’n Facebook-inskrywing bekend gemaak het waarin Jansen verskeie uitlatings maak oor verkragtings in swart huishoudings en swart mans se rol daarin.

Jansen is intussen op spesiale verlof geplaas in afwagting van ’n verhoor deur die Regterlike Dienskommissie (RDK).

In ’n eksklusiewe onderhoud met Rapport het Lulu en haar niggie, die 45-jarige Nana Sithole, net die grootste lof gehad vir die vrou wat nou landwyd verguis word. Nana het ses jaar lank by Jansen en haar man gewoon en sê Mabel Jansen, na wie sy as “May” verwys, is vir haar “soos ’n ma”.

“Ek ken haar hart. Sy mag iets verkeerd gestel het, maar dit maak haar nie ’n slegte mens nie. Almal maak foute, maar net God kan oor ons oordeel,” sê Nana.

Sy het haar gemeente in Akasia van die gebeure vertel en wie Jansen régtig is en sê “almal bid daagliks vir haar”.

Lulu sê verlede Sondag, Moedersdag, het sy ’n boodskap op Jansen se Facebook-blad geskryf waarin sy haar beskryf “as die beste ma in die hele wêreld”.

Skaars ’n uur later het die familie se wêreld in duie gestort.

Jansen moes haar nie net teen rassisme verdedig nie, maar het ook kort daarna gehoor dat haar man in Brittanje agter die stuur van sy motor oorlede is.

Hy werk al geruime tyd vir drie maande op ’n slag as ortodontis in dié land.

“Ek is sedertdien só ontsteld en diep seergemaak oor die kru woorde wat sy toegesnou word,” sê Lulu.

Lulu sê haar kamer is tussen haar susters (Jansen se biologiese dogters) se kamer.

“Sy het my deur skool en universiteit gesit en ek het dieselfde sakgeld, buitemuurse aktiwiteite en oorsese vakansies as die ander gekry. Elke keer het my biologiese ma ook saamgegaan.

“As ek met haar gesels oor haar werk, vertel sy hoe traumaties die kinderverkragtingsake vir haar is. Die sake wat sy as regter aanhoor, word net al hoe erger en gewelddadiger.”

Sy sê die dag toe haar ma die boodskappe aan Schutte geskryf het wat tot die huidige bohaai aanleiding gegee het, was sy besig met ’n appèl in ’n strafsaak waarin ’n vyfjarige meisietjie verkrag is.

Sy was emosioneel en het meegevoer geraak met die debat oor verkragting op Schutte se blad.

Volgens Lulu is Schutte ’n “vriendin van ’n vriendin” en het die twee mekaar nog nooit ontmoet nie.

“Ja, (my ma) het oordryf en veralgemeen oor swart mans, maar die werklikheid is dit bly ’n verskriklike probleem in townships. Ek weet, ek het swart vriendinne wat al verkrag is.”

Nana sê sy weet Jansen is nie ’n rassis nie.

“Toe my ma, Lena, siek geword het, het May haar versorging in ’n private hospitaal betaal. Later ook haar begrafnis.

“Ek was al getroud toe ek nie my huurgeld kon bybring nie. Weer het May ingespring en my onderhou,” sê sy.

Nana sê twee dae ná die bom oor Jansen se opmerkings was daar ’n berig op televisie van ’n pastoor wat ’n kind verkrag het omdat hy demone uit haar dryf.

“Daar is baie goeie swart mans daar buite. My pa was een van hulle. Maar daar is ook heeltemal te veel wat geen respek het vir vroue of kinders nie en nie ’n nee aanvaar nie. Dit is na húlle wat May verwys het.

“En vir diegene wat daaroor uitvaar, kan ek net sê die waarheid maak seer,” sê Nana.

Ná die rasherrie kry haar ma doodsdreigemente. Sy is te bang om haar huis te verlaat, sê Lulu.

Jansen het ook haar Facebook-blad geskrap om haar vriende en familielede te beskerm. Haar foon beantwoord sy net as sy die beller se nommer herken.

Schutte het gister aan Rapport gesê die feit dat die regter swart kinders het, het niks met die saak te doen nie.

“Ek veroordeel haar op grond van haar uitbarsting op Facebook. Sy beskou haarself as ’n liberaal, maar dit word nie weerspieël in wat sy oor swart mense dink en sê nie.

“Sy veroordeel alle swart mans as seksuele afwykendes op grond van haar eie rassistiese idees oor swart mense se moraliteit.

“Indien sy nie verstaan dat dít die ergste vorm van rassisme is nie, hoort sy nie op die regbank nie,” sê Schutte.

  • Jansen wou nie reageer nie.

Bron: Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!