Selfbesluitneming die antwoord op swak staatsbesluite

Suid-Afrika steier die afgelope jare onder die gevolge van ons swak regering. Beurtkrag het die verval in ons huise ingebring, en is saam met die misdaad buite simbolies van die staat se swak besluite. Hoewel Suid-Afrika nog ver van algehele staatsverval is, het groot dele van die staat al verval: die meeste openbare skole, talle munisipaliteite, baie staatshospitale, verskeie provinsies, honderde polisiestasies, groot dele van staatsdepartemente, terwyl die meeste openbare ondernemings net deur ons belastinghulp en hulle monopolie aan die gang gehou word.

Hierdie krisis van swak staatsbesluite word vererger deur die staat se inmenging in die vryheid van besighede, die media, die regbank, kultuurgroepe, skole, universiteite, staatsinstellings en bykans elke deel van die samelewing. Dit is asof die regering die burgery sien as politieke minderjariges wat nie in staat is om self te besluit oor sake wat hulle raak nie. As die Gautengse LUR vir onderwys nie ’n rassistiese skool agter elke bos soek nie, trek die ANC leierskap te velde teen die howe, beveg hulle die land se besighede wat broodnodige werk probeer skep, of ondermyn hulle die onafhanklikheid van die media, SARS of grondwetlike instellings soos die Openbare Beskermer.

Staat gekaap

Die oorsprong van die probleem is dat die ANC na 1994 die staat oorgeneem en onder die vaandel van “transformasie” vir sy eie ondersteuners gekaap het. Die staatsdiens het ’n werkskeppingsprojek vir ANC-ondersteuners geword, en staatsinstellings in die praktyk ontoeganklik vir minderhede. Die meeste witmense is met rassekwotas uitgestoot, en die staatsdienste is grootliks op die regering se ondersteuners ingestel.
Die reaksie op die dubbele krisis van swak staatsbesluite en die toenemende outokratiese inmenging in die samelewing is voorspelbaar: ’n Groeiende aandrang op selfbesluit en selfdoen. Die alternatief vir selfbesluit en selfdoen is staatsbesluit en staats-“diens”, en daarvoor sien al meer mense nie kans nie. Daarvoor is die staat se besluite te swak en die staatsdienste te vrot. Dis ʼn doodnormale reaksie van mense om oor hul eie sake te wil besluit as die regering swak besluite daaroor neem. En as die regering in die vryheid van sy burgers inmeng, streef mense van nature na groter vryheid en selfstandigheid. In kort, hoe swakker die staat se besluite en die staat se dienste, hoe groter die aandrang op selfbesluitneming en selfdoen.
Meestal besluit die staat vir en oor ons en sukkel ons met misdaad, vervallende munisipale dienste en paaie, min opleidingsgeleenthede vir jongmense en die gevolge van swak munisipale, provinsiale én nasionale regering. Toegang tot die onderskeie owerhede is ook ʼn groot probleem en ons het geen betekenisvolle inspraak in die aanwending van ons belastinggeld nie. Hulle besluit vir ons en ons moet net betaal.
Die gevolg hiervan is dat die privaatsektor, privaatmense en die gemeenskap al meer staatsfunksies begin uitvoer, omdat die swak staatsbesluite en vrot staatsdienste hulle nie ’n ander keuse laat nie. Dis ’n moeilike en duur maar praktiese antwoord op die staatsverval en die staat se politieke inmengery in die vryheid van die samelewing.

Selfbesluit en Selfdoen

Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde om te sien hoe ver hierdie proses al in die praktyk gevorder het.
1. Werk:
Rassediskriminasie het daartoe gelei dat Afrikaners die staatsdiens verlaat het en in die privaatsektor werk of hul eie besighede begin het. Solidariteit veg vir minderhede se reg op gelyke geleenthede en ’n goeie werk.

2. Medies:
Die swak bestuur van die staat se mediese dienste het gelei tot die opkoms van top gehalte maar peperduur privaat mediese dienste. Dié wat dit kan bekostig kan self besluit oor hulle mediese dienste.

3. Onderwys:
Die Afrikaanse openbare skole is nog wêreldklas, maar die staat se groeiende politieke inmenging maak dit al moeiliker. Die Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum (SOS) help nou al 400 skole met ’n wye verskeidenheid dienste. Daar ontstaan al meer privaatskole, en tuisonderrig raak gewild. AfriForum help Fedsas om beheerliggame se grondwetlike reg te verdedig om self oor die skole te besluit.

4. Tegniese opleiding:
Die staat se swak besluite oor tegniese opleiding en die verval van die meeste tegniese kolleges het Solidariteit genoop om self ’n Tegniese Kollege, Sol-Tech, te begin. Die Kollege is befonds deur ledebydraes, gee nou gehalte-opleiding aan 1200 ambagsmanne, en spog met ’n slaagsyfer van 96%. Ons wil self oor tegniese opleiding besluit en wil dit self doen.

5. Universiteite:
Die politieke transformasie van die histories Afrikaanse universiteite het duisende jongmense se toegang tot universiteitsopleiding beperk, en Afrikaans as akademiese taal onherstelbaar benadeel. Terwyl daar steeds pogings aangewend word om Afrikaans en studiegeleenthede vir Afrikaanse studente by die openbare universiteite te beskerm, het Solidariteit ’n privaat Afrikaanse universiteit begin. Akademia bied tans verskeie kwalifikasies aan by sy 7 studiesentrums landwyd, en kry nou ’n nuwe Kampus in Centurion.

6. Studiekostes:
Die staat se kaping van die studiefondse en die diskriminerende praktyke wat dit gevolg het, het Solidariteit genoop om Helpende Hand as selfstandige instelling te begin. Solidariteit Helpende Hand bied tans rentevrye studiehulp van byna R30 miljoen jaarliks aan 1500 studente. Hierdie skema word nou drasties uitgebrei.

7. Munisipale dienste:
Die verval van munisipale dienste was een van die grootste redes vir AfriForum se vinnige groei, en die organisasie werk nou in 125 dorpe om dienslewering te monitor en te verbeter. AfriForum se doel is om die gemeenskap se reg om self oor hulle dienste te besluit te bevorder, en om soveel dienste as moontlik self te lewer omdat die staat dit nie kan doen nie.

Die munisipale verval is ’n groot dryfkrag agter die ontstaan van privaatdorpe rondom die stede, en selfs van ’n dorp soos Orania. Gemeenskappe kan nie meer staatmaak op die staat nie, en wil nou self oor hulle sake besluit en dit self doen.

8. Veiligheid:
Die misdaadkrisis het AfriForum genoop om die veiligheid van gemeenskappe as sy grootste prioriteit te beskou. Projekte om gemeenskapsveiligheid te verbeter is nou op meer as 60 dorpe aan die gang, en AfriForum werk saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte om gemeenskappe te beveilig. Gemeenskappe wil self oor hulle veiligheid besluit.

9. Omgewing:
Die staat neem vrot besluite oor die omgewing. Omgewingskrisisse neem hand oor hand toe, en AfriForum se omgewingsake-afdeling het hulle hande vol om dorpe se water, riviere en omgewings skoon te hou. Ons wil self oor ons omgewing besluit, want ons moet daarin leef.

10. Pensioen:
Die swak staatspensioene verplig mense om self vir hulle oudag te spaar. AfriForum en Solidariteit staan wel groepe pensioenarisse by om die howe te nader waar daar bedrog by pensioenskemas bewys kan word.
11. Elektrisiteit:
AfriForum staan gemeenskappe landswyd by om die staat se swak besluite oor elektrisiteit te probeer beredder. Die Solidariteit KragDag is maar een van die talle selfhelpprojekte waarmee Solidariteit besig is.

12. Media:
Die SABC se staatsgedrewe transformasie het die Solidariteit Beweging genoop om vennootskappe met Afrikaanse media-instellings te vorm. Daarom het ons Maroela Media as ’n gratis mediamaatskappy begin, wat nou die tweede grootste Afrikaanse nuusblad is. Tweedens help ons ook Afrikaanse gemeenskapsradio’s om professionele landswye rolspelers te word.

13. Erfenisbewaring:
Die verval van Afrikaner-erfenisse het ons Beweging genoop om saam met vennote die Erfenisstigting te begin om ons erfenis te bewaar. Ons wil self oor ons erfenis besluit, ons vertrou nie die staat met die bewaring daarvan nie.

14. Afrikaans:
Ondanks die grondwetlike bepalings het Afrikaans baie veld verloor, en het die Beweging talle projekte geloods om Afrikaans te bevorder. Die staat se besluite benadeel Afrikaans, en Afrikaanssprekendes moet self oor ons taal besluit.

15. Geskiedenis:
Die staat se kriminalisering van ons geskiedenis het ons genoodsaak om self daaroor te besluit. Die FAK is deur die Beweging getaak om die Afrikanergeskiedenis by die staat “terug te vat”, sodat ons self daaroor kan besluit. Kyk na die Internet-museum op die FAK se webblad vir meer inligting.

Opsomming
Ons streef nie net na persoonlike besluitneming waar mense dienste privaat aankoop en dan self daaroor besluit nie. Dis in die praktyk net vir ’n bepaalde groep moontlik wat dit kan bekostig. Ons streef na die groter prentjie: Afrikaners wil as gemeenskap self besluit oor die sake wat ons raak. Ons is nie politieke minderjariges nie, en wil nie hê dat die staat op elke denkbare gebied vir ons moet besluit nie. Daarom het ons die Solidariteit Beweging as moderne Helpmekaar-beweging gestig. Ons wil self besluit en self doen, en deur helpmekaar-aksies soveel dienste as moontlik aan die gemeenskap lewer. Dit doen ons deur ons netwerk van selfstandige selfdoenorganisasies. Dit is moeilik, maar moontlik. Die alternatief van staatsbesluitneming is nog moeiliker en heeltemal onmoontlik.

The post Selfbesluitneming die antwoord op swak staatsbesluite appeared first on AfriForum.

Enjoyed this post? Share it!