Selfverdediging deel 2 en Noodhulp. Wanneer kan jy ‘n inbreker skiet?


Ons het die afgelope 2 weke gekyk na Plaasveiligheid, paraatheid, selfverdediging en vanaand kyk ons in opsomming na ‘n paar paraatheids wenke asook so vlugtelings na wanneer jy ‘n inbreker mag skiet (ek het het in ‘n vorige uitsending vroeër hierdie jaar die onderwerp meer breedvoerig bespreek) en ek begin met basiese noodhulp in so nood situasie.

Deel 1 is hier beskikbaarSelfverdediging deel 1: Wees wakker en waaksaam, vasberade en beslis, en aggressief

Wees Paraat. Moet vir geen rede uit jou huis uitgelok word nie. Kry help van buite:

Stede / dorpe / plase / plotte – dieselfde beginsels geld oral:

■ Moenie uitgaan na jou “krag-box” om te kyk wat aangaan as jou krag afgaan nie – kry eers hulp van buite af in !!
■ Moenie uitgaan om te kyk hoekom loop daar water uit jou krane of in jou tuin nie – die krane kan nie vanself oopgaan nie – kry eers hulp van buite af in !!
■ Moenie uitgaan as iemand om “hulp roep” of “gewond” by jou huis aankom nie – bel die nodige nood-eenhede soos polisie, ambulans, ens !!
■ Moet ook nie goedsmoeds vir die “polisie” oopmaak nie .. kontak jou naaste polisiestasie en bevestig eers alle details !!
■ Moenie uitstorm as jou voertuig(e) se alarm afgaan nie – daar moet ‘n (moontlik gevaarlike) rede wees daarvoor !!
■ Moenie uitstorm om te kyk hoekom jou honde dringend en aanhoudend blaf nie – daar moet ‘n (gevaarlike) rede wees daarvoor !!
■ Moenie gaan kyk hoekom “huil daar ‘n baba” by jou kamervenster of by jou hek nie – die “Suster Theresa-gevoel” kan jou lewe kos !!
■ Moenie uitgaan as klein hondjies op jou stoep of by jou voordeur neergesit word nie. Bel dan eerder jou Buurtwag, CPF of DBV om uit te kom asb. Lyk my dis die nuwe Modus Operandi deesdae. Kriminele sit klein hondjies saans naby jou huis se deure en wag vir jou om uit te kom. MOENIE daarvoor val nie!
■ Moenie reageer op “hulproep” van jou werkers in die nag nie – maak ‘n alternatiewe reeling met hulle – in mediese noodgeval byvoorbeeld, kan hulle jou bel en jy kan ambulans reel !!
■ Moenie vir “verkoops foefies” of “herstelwerk foefies” of “opname truuks” of “werk soek truuks ”val nie – as hulle nie met jou ‘n afspraak kan maak nie, dan mag hulle jou nie te siene kry nie !!
■ Moet GEEN vreemdes by of naby jou huis toelaat nie (dag of nag) .. hanteer dit altyd as ‘n moontlike roof / plaasaanval as daar vreemdes per voertuig of voet aankom – roep onmiddelik hulp van buite af in voordat hulle naby jou kom !!
■ Reel al hierdie nood-drils ook met jou bure rondom jou – praat met mekaar, al is dit 3-uur in die nag en help mekaar so beskerm teen al hierdie slinkse truuks !!
■ Kry AL die nooddienste, SAPS, CPF, Buurtwag, Plaaswag, ens. se noodnommers op julle selfone en roep ALTYD EERS hulp van BUITE af in om jou eiendom te beveilig VOOR jy self uitstorm !!
■ Ons is geregtig op privaatheid en ‘n “veilige spasie” om ons – moenie dat daardie regte binnegedring word nie – handhaaf dit baie streng !!
■ Vertrou ALTYD jou “6e sintuig”, die “stemmetjie” wat jou waarsku of “daardie gevoel” – dis gewoonlik reg !!

Ons veiligheid begin by ons.

Wanneer kan jy ‘n inbreker kan skiet? Dán skiet jy ‘n inbreker. Mag jy ’n inbreker wat jy in jou huis betrap summier doodskiet?

Die kort antwoord is: Ja, jy mág ’n inbreker in jou huis skiet en selfs doodskiet.

Maar met dié antwoord saam kom ’n norring regsreëls en regsbeginsels wat ook weer in ’n paar woorde saamgevat kan word: wederregtelikheid en die redelike mens. Prof. Tom Coetzee van Potchefstroom, wat sy doktorsgraad in strafreg verwerf het en lank as streeklanddros waargeneem het, stel dit só:

As ’n lid van die publiek bewus word van ’n inbreker in sy huis, of dit nou in die dag of die nag is, en so ’n inbreker betrap, wéét hy mos dat daardie inbreker nie daar is om ’n koppie koffie te kom drink nie.

Dit help jou niks om na die inbreker toe te stap nie en vir hom te sê: ‘Hallo, my naam is Tom Coetzee. Waarmee kan ek help? O, jy breek in? Nou beplan jy om my of my vrou of my kinders te beseer of te vermoor of te verkrag? Indien dit die geval is, wys my asseblief net gou eers jou wapen sodat ek ’n soortgelyke wapen kan gaan haal om myself mee te verdedig.’ “Teen daardie tyd is die huisbewoner lankal ’n lyk.

In ’n land soos Suid-Afrika, waar die howe geregtelik kennis kan neem van die geweldige aantal inbrake in die land waarvan die meeste met baie ernstige geweld gepaardgaan, sal die redelike mens se eerste gedagte wees dat hy homself, sy vrou en sy kinders moet beskerm teen ’n moontlike gewelddadige aanval.

“Onthou dat wat ook al die huiseienaar besluit, hy letterlik breukdele van sekondes het om te besluit of hy gaan skiet of nie.

Hy het nie die voordeel van regters en aanklaers wat later in gemakstoele by hul lessenaars rustig die feite kan oorweeg om te besluit of hy billik opgetree het deur die inbreker te skiet nie.

Dis in die meeste gevalle letterlik ’n geval van dis jy of ek. Dit is waar die geykte regsreël inkom van die redelike-mens-toets.

Die redelike mens sal in sulke omstandighede nie huiwer om sy eie lewe, sy gesin se lewens en sy eiendom teen die inbreker te beskerm nie.

“As die huiseienaar ’n vuurwapen by hom het, is daar net een manier om die inbreker te stuit: Skiet hom! Dit maak nie saak of die inbreker ’n wapen van watter aard ook al by hom het nie. “Daar kan nie van die redelike mens verwag word om die inbreker eers te vra watter wapen hy by hom het nie.

Dit is redelik dat die huiseienaar onmiddellik skiet, al is dit ’n doodskoot. Van moord op die inbreker is daar in sulke omstandighede geen sprake nie, want die huisbewoner se handeling was nie wederregtelik nie.

“Hy het nie geskiet omdat hy keelvol is vir misdaad nie, hy het geskiet omdat hy wettig sy lewe en dié van sy gesin en sy eiendom wou beskerm.”

Die strafregkenner prof. Callie Snyman, voorheen van Unisa, stel dit in sy gesaghebbende boek Strafreg – wat in regskringe bekend staan as aanklaers se “Bybel”,

so: “Veronderstel dat X, terwyl sy in haar huis slaap, in die middel van die nag wakker word en agterkom dat ’n inbreker haar kamer of dié van ’n familielid nader.

Mag X summier skiet, of moet sy die inbreker eers vra om hom te identifiseer en die doel van sy besoek te verduidelik ten einde te kan besluit wat, objektief beskou, in die omstandighede die gepaste afweerhandeling sal wees?

“Moet sy eers die inbreker in hegtenis probeer neem en dan die polisie bel?

“Daar word aan die hand gedoen dat X in so ’n situasie geregtig is om summier op die inbreker te skiet. Selfs al kom dit later aan die lig dat die inbreker ongewapen en fisiek swak was en maklik deur X oorrompel kon gewees het?…?is dit uiters onwaarskynlik dat ’n hof sal beslis dat X wederregtelik opgetree het deur na die inbreker te skiet.

“ ’n Mens se huis is jou kasteel. Dit is die laaste bastion van jou veiligheid.

Ondervinding leer dat selfs ’n oomblik se huiwering deur X in dié soort omstandighede fataal vir X mag wees.

“Om aan X die reg te weier?om in sulke omstandighede te skiet, sou daarop neerkom dat van haar verwag word om met haar lewe of dié van haar familie te dobbel, en dit kan die reg nie van haar verwag nie.

Dié siening bevredig ook die regsgevoel van Johann Gresse, voorsitter van die strafregkomitee van die prokureursorde van die noordelike provinsies.

Hy voeg by dat die openbare belang en mening ook nog ’n rol sal speel. Geen lid van die publiek sal ontevrede wees omdat ’n inbreker in ’n huis doodgeskiet word nie.

Sowel Coetzee as Snyman is dit eens dat daar nie regtens van die huisbewoner(s) verwag kan word om aan die moontlike dreigende aanval op hulle te ontkom deur eers te probeer vlug nie.

Dit sal daarop neerkom dat sulke onskuldige mense gedwing word om die veiligheid van hul eie huis te verlaat sodat ’n inbreker sy sin kan kry.

Reg moet dus die knie buig voor onreg, wat regtens onaanvaarbaar is,” sê Coetzee. Snyman stel dit so:

Die reg verwag nie van X om uit haar eie huis te vlug as sy daar aangeval word nie. Haar huis of woonplek is haar laaste toevlugsoord – haar ‘kasteel’ – waar sy haar teen alle onreg kan beskerm.

Boonop erken ons howe die beginsel dat as dit vir X gevaarlik is om te vlug, in die sin dat sy haar dan blootstel aan byvoorbeeld ’n steek (met ’n mes) of ’n koeël in die rug, sy nié hoef te vlug nie, maar haar aanvaller buite aksie kan stel.

Dit is die aanvaller (die inbreker) wat opsetlik die wederregtelike aanval loods wat die risiko van besering of dood dra, nie die aangevallene nie.

Coetzee en Gresse beklemtoon dit egter dié uitleg van die reg gee in geen omstandighede aan enigiemand die reg om links en regs mense te skiet nie.

Daar is ’n groot verskil tussen ’n inbreker in jou huis wat doodgeskiet mag word en iemand wat buite in jou tuin rondsluip, klaarblyklik met die bedoeling om te steel of in te breek.

As ’n huisbewoner so iemand in sy tuin sien, is daar, weer volgens die redelike-mens-toets, geen rede om te glo dat daardie persoon inderdaad gaan inbreek nie.

Tweedens het die huisbewoner genoeg tyd om die polisie te ontbied of sy alarmstelsel te aktiveer.

Wanneer mag jy ‘n inbreker skiet?

Hy kan selfs waarskuwingskote in die lug afvuur om die sluiper te probeer verjaag.

Die feit dat ’n inbreker binne-in jou huis doodgeskiet mag word, mag nooit ’n free for all word waarin later dan selfs mense op jou sypaadjie voor die huis doodgeskiet word nie.

Die doodskiet van ’n inbreker in jou huis is reeds in 2003 deur oudregter Johann Kriegler in ’n uitspraak in die konstitusionele hof onregstreeks bevestig toe hy gesê het polisielede mag slegs tydens inhegtenisnemings waarteen verdagtes hulle verset op verdagtes skiet as die beampte “redelike” gronde het om te glo dat die verdagte ’n onmiddellike gevaar van ernstige liggaamlike leed vir die beampte of ander lede van die publiek inhou.

Dié “redelike gronde om te glo” kan net so op ’n huisbewoner van toepassing gemaak word wat ’n inbreker in sy huis betrap, sê Coetzee.

ONTHOU: Jy bly die een wat dalk in die hof jou daad moet gaan verduidelik en dit regverdig!!

Soos wat jy alleen agter jou wapen staan gaan jy dalk alleen in die hof ook staan – maak seker jy kan beide gevalle hanteer indien nodig??

 

Basiese kennis kan ‘n lewe red

Niemand is gevrywaar teen ‘n lewensgevaarlike situasie nie. Kennis van basiese noodhulptegnieke het al talle lewens gered. Hier is ‘n aantal sulke tegnieke wat elke Suid-Afrikaner in gedagte kan hou.
Meer as 11 000 mense sterf elke jaar in motorongelukke, sowat 20 000 is slagoffers van moord, rooftogte en motorkapings, en nóg 1 000 plaasbewoners val plaasaanvallers ten prooi. Dit is dus noodsaaklik dat ‘n ieder en ‘n elk in staat moet wees om noodhulp toe te pas.
Na ‘n aanval of ‘n ongeluk kan die slagoffers geskok, beseer en moontlik bewusteloos wees. Basiese noodhulptegnieke kan beseerdes aan die lewe te hou totdat mediese hulp opdaag. (Hierdie is net wenke, nie volledige opleiding in noodhulp nie.)
Maak seker dat die pasiënt se lugweg oop en skoon is. Soms kan kunstande, braaksel of bloeding dit verstop. Laat die pasiënt op sy rug lê en trek sy kop agteroor. Indien daar braaksel in die lugweg is, moet die pasiënt op die sy gedraai word, maar sy kop moet steeds agtertoe getrek word.
As ‘n pasiënt nie meer self asemhaal nie, moet hy gehelp word om lug in sy longe te kry. Draai hom op sy rug, trek sy kop agteroor en druk sy neus toe. Blaas ‘n vol teug lug by sy mond in. Maak seker sy longe word gevul. Dit kan maklik waargeneem word deur sy borskas dop te hou. Wag totdat die lug by sy mond of neus uitkom. Herhaal dan die proses.
Indien iemand se hart gaan staan het en daar geen polsslag is nie, moet daar dadelik met hartmassering begin word. Draai die persoon op sy rug en trek sy kop agtertoe om die lugweg oop te kry. Mond-tot-mond-asemhaling moet saam met die hartmassering gedoen word om suurstof in sy longe te kry. Hartmassering vervang die hartklop. Die hartmassering help dus om bloedvloei na die brein, longe en hart te bewerkstellig, en mond-tot-mond-asemhaling sorg vir suurstof in die bloed. As hy baie bloed verloor het, moet sy bene opgelig en op ‘n voorwerp soos ‘n stoel geplaas word.
Blaas vier keer vinnig lug by sy mond in en volg dit op met vyftien afwaartse hartkompressies (streng reëlmatig een keer per sekonde) op sy bors. Die regte metode is om albei hande plat op die onderste deel van die borskas te plaas, die elmboë reguit te maak en hard af te druk.
Blaas dan weer een keer lug in sy longe en masseer die hart vyf keer. Herhaal laasgenoemde twee stappe soveel keer as wat nodig is.
Indien ‘n slagaar beseer is, is die bloeding ligpienk of helderrooi en spuit dit ritmies by die wond uit. Bloeding uit ‘n gewone aar is donkerkleurig en dit vloei reëlmatig uit. Dié tipe bloeding kan met ‘n drukverband gestop word, maar ‘n slagaar sal net ophou bloei as ‘n toerniket op die wond geplaas word. Dit word gedoen deur ‘n verband om die plek waar die slagaar is, te draai, om te voorkom dat nóg bloed na die liggaamsdeel vloei waar die wond is. Die verband word met ‘n pen of stok opgewen totdat die bloedtoevoer na die wond afgesny word.
‘n Toerniket kan tot drie uur lank om ‘n been of 90 minute om ‘n arm gehou word sonder dat dit weefselskade veroorsaak. Tog is dit raadsaam om die toerniket elke halfuur vir ‘n paar sekondes te laat skiet sodat die bloed suurstof na die betrokke liggaamsdeel kan neem.
Indien dit blyk dat ‘n beseerde dalk geopereer moet word, mag hy niks drink of eet nie, want dit kan veroorsaak dat hy tydens narkose braak, wat baie gevaarlik is.
Die beste pynstiller vir ‘n fraktuur is immobilisasie. Plaas ‘n kussing onder die gebreekte ledemaat, of spalk dit tussen twee stokke of plankies. ‘n Mens kan 1,5 l tot 2 l bloed inwendig verloor weens ‘n fraktuur.
In die geval van ‘n skietwond moet die pasiënt so min moontlik beweeg word, want die koeël kan groot skade aanrig as dit op ‘n sensitiewe plek – soos die nek of die rug – in die liggaam is.
In die geval van messteke moet die bloeding so gou moontlik gestop word. As ‘n mes of ander skerp voorwerp nog in die beseerde se liggaam vassit, mag dit nie verwyder word nie. As dit vassit, druk dit dalk slagare toe, wat sal begin bloei as die voorwerp verwyder word. ‘n Volwassene het ses tot sewe liter bloed in sy liggaam. Hy kan binne ‘n paar minute doodbloei as ‘n slagaar beseer word, omdat die hart ál vinniger klop namate die pasiënt meer en meer bloei om vir die liggaam se funksies te probeer kompenseer.
Mense wat aan chroniese siektes lei, soos asma, suikersiekte, hoë bloeddruk en vroeëre beroerte, moet te alle tye ‘n Medic
Alert-bandjie of -hangertjie dra, wat sulke inligting verskaf vir ingeval hulle bewusteloos is.

 


Benut noodhulpdienste

Daar is ‘n nooddiens-organisasie in Suid-Afrika wat ‘n lewensnoodsaaklike mediese diens aan die gemeenskap lewer. Dit bestaan uit ‘n groep mense wat goed opgelei is om noodbehandeling in enige situasie toe te pas.

In ‘n noodgeval kan een nasionale noodnommer – 10177 – geskakel word. Dit is egter raadsaam om altyd ‘n plaaslike noodnommer ook byderhand te hou wat in ‘n noodgeval regstreeks geskakel kan word.
Ongelukkig kan ‘n mediese nooddiens weens logistieke probleme nie altyd gou op die toneel wees nie. Daarom is die Bateleur-noodkommunikasiesentrum op die been gebring. Wanneer iemand ‘n noodtoestand beleef, wat dikwels met trauma en paniek gepaardgaan, soos tydens ‘n plaasaanval, kan hy dié sentrum bel. Hulle sal dan die situasie bestuur deur die SA Polisiediens, plaaslike kommando, nooddienste, brandweer en steungroepe, soos bure, dadelik en gelyktydig van die noodgeval te verwittig. Lede kan vooraf self besluit wie in die distrik gekontak moet word.
Hulle het ook 24 uur per dag toegang tot ‘n mediese sentrum (Nurse on Call), waar ervare mediese personeel kundige advies in tye van nood per telefoon verskaf totdat hulp opdaag. Bateleur reël ook vir die vervoer van pasiënte per ambulans of helikopter, en verskaf bystand aan minderjariges.
Die inligting vir dié reeks is aan Landbouweekblad verskaf deur ‘n boer van Lichtenburg, mnr. Koos Geldenhuys, wat ‘n studie van plaasaanvalle gemaak en talle kenners geraadpleeg het. Die gedagte is dat lesers uit elke artikel kan leer om hulle méér paraat te maak om plaasaanvalle te voorkom. Dorpenaars en stedelinge kan die veiligheidswenke ook ter harte neem.
Mense met nóg vrae kan aan mnr. Geldenhuys skryf by Posbus 1786, Lichtenburg 2740, of vrae per e-pos aan hom stuur by amanda@mjvn.co.za. Die Bateleur-noodkommunikasiesentrum kan by 083 123 3912 gebel word.
GEVALLESTUDIE

Aanvallers nooit gevang

‘n Bejaarde boer en sy vrou woon in ‘n omgewing wat al telkemale onder plaasaanvalle deurgeloop het. Sy broer is ‘n paar jaar gelede wreedaardig vermoor en dié se vrou is vir dood agtergelaat. Toe was dit dié boer se beurt.
Hy het ten tye van die voorvalle diefwering voor ál die vensters – behalwe twee groot ruite – gehad. Daar was honde op die werf en snags is die werf verlig. Daar was nie ‘n veiligheidsheining om die werf nie en die alarmstelsel was nie in gebruik nie.
Laat een nag in 1998 het sy vrou geluide in die huis gehoor. Hy het met ‘n vuurwapen gaan ondersoek instel. In die studeerkamer het hy gesien dat die groot venster verwyder is. Daar het drie inbrekers in die vertrek gestaan.
Ná ‘n waarskuwingskoot het die inbrekers gevlug. Die boer het lede van die plaaswag ontbied, wat binne vyftien minute daar was.
Buite die studeerkamer het ‘n rugsak gelê. Die inhoud het van fyn beplanning getuig. Daarin was ‘n glassnyer met ‘n suigapparaat, wat gebruik is om die venster te verwyder; gif om die honde buite aksie te stel; handskoene om vingerafdrukke te vermy; ‘n houtpaal wat vermoedelik gebruik sou word om mense mee dood te slaan; ‘n dun kabel (van die soort waarmee mense verwurg word); lappe wat met vlieëgif deurdrenk is om in hul monde te druk; en gifstof wat op ‘n vensterbank geplaas word om die huismense te bedwelm.
Dit het daardie aand gereën en die aanvallers het juis dié nag gekies sodat hul voetspore uitgewis sou word. Hulle is nooit gevang nie.
Drie jaar later is die boer en sy vrou weer een nag aangeval. Die aanvallers het vyf deure oopgedwing, insluitend die veiligheidsdeur. Toe die boer en sy vrou wakker skrik, was die aanvallers reeds in hul slaapkamer. Albei is met nylontou en elektriese draad vasgebind en twee uur lank aangerand.
In ‘n stadium is die vrou in die badkamer toegesluit en die man moes die motor vir hulle gaan oopsluit. Hulle het hom beveel om die kattebak oop te maak sodat hulle hom kon skiet en inlaai. Die boer het hardop begin bid, waarop die een aanvaller gesê het: “Mandela is the only God.”
Die boer is toe só hard geslaan dat sy oortrom gebars het. Toe hulle hom wou skiet, het hy aanhou bid, waarop die aanvaller met die vuurwapen begin bewe het.
Die boer sê hy glo God het op daardie oomblik die duiwel oorwin. Sy lewe is gespaar, maar die aanvallers het alles gevat wat hulle wou hê en toe gevlug. Die aanvallers is nooit gevang nie. Die boer en sy vrou moes berading ontvang. Hulle kry steeds dreigemente oor die telefoon.


Noodhulptassie ‘n moet

Elke plaashuis behoort ‘n goed toegeruste noodhulptassie te hê. Dit moet ook op ‘n plek gebêre word waar dit maklik bereikbaar is. ‘n Goeie idee is om die bêreplek neer te skryf op die lysie noodtelefoonnommers, wat naby die huistelefoon gehou moet word. Dit sal vreemdelinge help om ‘n beseerde persoon vinniger te begin behandel.

Hier is ‘n lys van basiese artikels in ‘n noodhulptassie:

Een paar latekshandskoene.

‘n Rolletjie hegpleister.

Vier rolletjies drukverbande.

‘n Rolletjie watte.

‘n Klein skerp skêrtjie.

‘n Pakkie pynpille.

‘n Eenrigting-klepventileerder vir mond-tot-mond-asemhaling.

‘n Botteltjie ontsmettingsmiddel.

‘n Paar alkoholdeppers.

Een haartangetjie (“tweezers”).

Plankies of stukke harde karton vir spalke.

Die plaaslike nooddiens se telefoonnommer op ‘n stukkie papier, asook ‘n telefoonkaart of kleingeld vir ‘n openbare munttelefoon.

Enjoyed this post? Share it!