Selfverrykende Spioene, Seks en eerlike onskuldige slagoffers!

’n Korrupte eenheid binne die intelligensiegemeenskap is besig met ’n goed georkestreerde plan om eerlike polisiemanne, staatsaanklaers en belastingamptenare te diskrediteer en om hul eie smokkelnetwerke, veral in die tabakbedryf, te beskerm. Die storie bring herinninge van die arme Boeremag manne wie ook so misbruik en in ‘n lokval gelei is.

Rapport kan vandag die bestaan onthul van die Eenheid vir Spesiale Operasies (ESO), ’n eenheid binne die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) waar korrupte spioene vrypas het om hulself te verryk deur sigaretsmokkelary, hul rampokker-vriende van vervolging te beskerm en eerbare staatsamptenare te diskrediteer. Onwettige projekte wat die afgelope jaar deur dié dirty tricks-eenheid aangepak is, sluit in:

* Die verspreiding van vals gerugte dat die voormalige staatsaanklaer adv. Glynnis Breytenbach ’n agent is van die Israelse intelligensieagentskap Mossad. Dit is klaarblyklik gedoen om te keer dat sy die voormalige hoof van misdaadintelligensie, lt.genl. Richard Mdluli, vir moord en korrupsie vervolg.

* Die stigting van ’n “onderneming” met die kodenaam “Projek Robin” waarin sommige ESO-lede na bewering met ’n veroordeelde bedrieër saamgespan het om sigarette vir eie gewin te smokkel.

* Die uitlek van ’n vals “polisie-dossier” om die voormalige hoof van die Valke, lt.genl. Anwa Dramat, te impliseer by perlemoensmokkelary en die onwettige uitlewering van verdagtes aan Zimbabwe. Dramat moes gediskrediteer word omdat hy glo die ondersoek na Mdluli se misdrywe gedryf het.

* Die lek van ’n vals verklaring wat genl.maj. Mark Hankel, die voormalige waarnemende hoof van misdaadintelligensie, daarvan beskuldig dat hy bewyse in die Boeremag-saak geplant het en nagelaat het om Al-Kaïda-aktiwiteite in Suid-Afrika te ondersoek. Hankel het ook ’n sleutelrol gespeel in die Mdluli-ondersoek.

* ’n Sameswering om top-amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te vervang. Dit moes klaarblyklik gedoen word omdat SAID-amptenare besig was om die misdaadnetwerke van ESO-lede se rampokker-vriende bloot te lê.

Rapport is al meer as ’n jaar lank bewus van die bestaan van dié eenheid se ongure bedrywighede. Die afgelope twee weke het die koerant egter in die besit gekom van honderde teksboodskappe, e-posse en bandopnames wat van 2011 tot Junie vanjaar gemaak is.

Dit sluit ’n bandopname in waar die dwelmhandelaar Glenn Agliotti sê hy smokkel sigarette “vir die regering”; nog een waar ’n geheime agent sê  hulle “het Breytenbach vir hoogverraad”; en ander teksboodskappe wat verwys na pogings om eerlike staatsamptenare te diskrediteer. Rapport is oortuig al die boodskappe is eg en sal as getuienis in ’n hof aangebied kan word.

Die koerant het ook ’n lys van ongeveer 15 rampokker-agente in die ESO en hul “vennote”, agente wat op kontrak vir die spioenasiediens werk en ’n maandelikse salaris ontvang. Die eenheid werk uit ’n huis in die ooste van Pretoria.

Onder die name is oudpolisielede, militêre intelligensieagente, ’n prokureur van Pretoria en selfs voormalige lede van die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB), die apartheidsregering se sogenaamde death squad.

Die hoof van die ESO is Thulani Dhlomo, self ’n vermeende swendelaar wat in 2012 as hoof van die eenheid aangestel is sonder enige vorige intelligensie-ondervinding.

Dhlomo was voorheen hoof van sekuriteit in die departement van maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal. Hy het bedank nadat ’n interne oudit bevind het hy het onregmatige kontrakte van R45 miljoen toegeken. Daar is aanbeveel dat hy strafregtelik aangekla word, maar dit het nooit gebeur nie.

* In ’n ontwikkeling wat klaarblyklik direk verband hou met dié skandaal is ’n adviseur van mnr. David Mahlobo, die minister van staatsveiligheid, verlede week ontvoer en aangerand. Sy ontvoerders wou weet wat die SA Inkomstediens se groepshoof vir ondersoeke, Johan van Loggenberg, aan top-amptenare by die agentskap onthul het oor die bedrywighede van die ESO.

Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, wou Vrydag nie op dié insident kommentaar lewer nie. Ook die SVA wou niks sê nie

Dié sexy Delila het als begin…

dc225d3b53f64c3f9f27aa88f116ac56


Dis ’n storie so oud soos die Bybel.

’n Slaapkamer-bekentenis, ’n heuning-lokval en ’n romanse wat op die rotse geloop het. Dít is die elemente wat gelei het tot die blootlegging van ’n dirty tricks-operasie wat beloof om die Suid-Afrikaanse inligtingsgemeenskap tot in sy fondamente te skud.

Dit het alles begin by Belinda Walter, ’n aanvallige 41-jarige Pretoriase prokureur wat die taak opgelê is om te spioeneer op die uitvoerende hoof van ondersoeke van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Johan van ­Loggenberg. Die blonde Delila kon uiteindelik nie die onkreukbare Van Loggenberg “draai” nie.

Trouens, nadat sy in Van Loggenberg se bed gekom het, het sy bely wat haar missie is en honderde inkriminerende teksboodskappe met hom gedeel – boodskappe wat uiteindelik ’n veel groter nes van korrupsie en rampokkery blootgelê het as wat enigeen ooit kon droom en waaroor Rapport vandag in detail berig, lees as volg:

n Spioen se slaapkamer-bekentenisse, ’n heuninglokval en ’n romanse wat op die rotse geloop het. 

Dít is die elemente wat gelei het tot die blootlegging van ’n dirty tricks-operasie wat beloof om die Suid-Afrikaanse inligtingsgemeenskap tot in sy fondamente te skud.

Dit begin alles by Belinda Walter, ’n aanvallige 41-jarige Pretoriase prokureur en spioen wat die taak opgelê is om te spioeneer op Johan van Loggenberg, die uitvoerende hoof van ondersoeke van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Van Loggenberg was die afgelope paar jaar by al die SAID se hoëprofiel-ondersoeke betrokke – van rampokkers soos Radovan Krejcir en Lolly Jackson tot sakemanne soos Dave King, Billy Rautenbach en Barry Tannen­baum. 

Walter het Van Loggenberg in Oktober verlede jaar vir die eerste keer ontmoet. 

Sy het as prokureur opgetree vir kleiner rolspelers in die tabakbedryf en was in dié hoedanigheid die voorsitter van die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita). Fita is ’n organisasie wat hom beywer om kleiner en onafhanklike sigaretmaatskappye ’n meer regverdige aandeel in die mark te gee. 

Sy het later aan SAID-ondersoekers gesê sy en die ongetroude Van Loggenberg dieselfde aand “speel-speel” oor hul selfone met mekaar geflirt en sy het hom vir ’n “date” gevra.

’n Verhouding het ontwikkel wat Van Loggenberg aan sy SAID-base verklaar het. Hy het haar ook gevra of sy bereid sal wees om haar aan ’n vrywillige belasting-oudit te onderwerp om te kyk of haar sake in orde is. Sy het ingestem. 

Van Loggenberg het in die loop van dié ondersoek agtergekom dat sommige van sy nuwe meisie se kliënte deur die SAID vir geld­was-sery, bedrog en belasting­ont-duiking ondersoek word. Hy het haar gevra om van hulle ontslae te raak, wat sy gedoen het.

Gedurende die verhouding het Walter ook aan Van Loggenberg erken dat sy ’n geheime agent van die Eenheid vir Spe­siale Operasies (ESO) is, ’n eenheid binne die Staatsveiligheidsagentskap. Hy het haar gevra om te bedank, wat sy oënskynlik gedoen het.

In die loop van die verhouding het Walter drie ou selfone aan Van Loggenberg gegee, met die versoek dat hy vir haar die teksboodskappe wat daarop was, aflaai en op ’n geheuestokkie stoor. 

Uit die kommunikasie tussen die twee in Rapport se besit is dit duidelik die verhouding was van die begin van die jaar in troebel waters.

Op 15 Mei SMS Walter aan Van Loggenberg: “Ek het fenomenale opofferings vir jou gemaak. Ek het jou uitsprake oor jou eerbaarheid geglo, jou in­tegriteit. Ek is jammer jy is nie daardie persoon nie.”

Sy stuur ook ’n gediggie: “I miss the way you held my hand/ It felt better than a ­billion rand/ I miss you as my ears and eyes/ Sharing secrets/ Just like spies.”

Later die maand volg sy dit op met ’n dreigement: “Rus in die wete dat elke e-pos, Whats-App en (woorde)wisseling waarin jy inligting oor ander belastingbetalers gedeel het, veilig gestoor is.”

In Junie voer sy dié dreigement verder deur ’n klagte by die SAID in te dien waarin sy beweer dat haar voormalige minnaar sielsiek, onstabiel, korrup, ’n patologiese leuenaar en ’n so­siopaat, “soortgelyk aan ’n pedofiel”, is. In haar klagte erken sy ook dat sy ’n “agent” was en dat sy hul gesprekke “vir die staat” opgeneem het. 

Nadat Van Loggenberg van dié klagtes ingelig is, het hy self agter die kap van die byl probeer kom. Hy het toe weer gaan kyk na sy eie kopie van die honderde teksboodskappe wat hy vroeër van Walter se ou selfone afgelaai het. 

Die versameling van meer as 200 teksboodskappe het veel meer onthul as wat hy verwag het. 

Nie net het dit Walter en die ESO se vuilspel teen hom en ander SAID-amptenare blootgelê nie, maar die hele misdaadnetwerk waarvan spioene van die Suid-Afrikaanse regering deel was.

Rapport verstaan Van Loggenberg het intussen dié inligting aan sowel sy seniors by die SAID as die Staatsveiligheidsagentskap oorhandig.

Die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, is ook bewus van die bewerings. 

Jacques Pauw, Rapport

Enjoyed this post? Share it!