Seun helder oordag aangeval in speelpark en 33 keer met skerp voorwerp gesteek

‘n Twaalfjarige seun is Dinsdag 33 keer met ‘n skerp voorwerp gesteek toe hy helder oordag tussen 11.30 en 12:00 deur ‘n volwasse man in ’n speelpark in Paarlstraat, Goodwood, aangeval is.

Genevieve Whitaker sê haar seun Ronan en vier vriende was besig om sokker te speel “soos wat hulle elke dag doen” in die park langsaan die woonstelblok waar hulle woon.

HY SAL MÔRE ’N OPERASIE AAN ALBEI SY HANDE ONDERGAAN.

Sy sê volgens die ander kinders het daar ‘n vreemde man rondgestaan en hulle dopgehou. Die man het toe blykbaar reguit na Ronan gestap en hom gevra wat sy naam is. Daarna het die man hom na bewering gepootjie en begin steek.
Whitaker was ten tyde van die voorval by die werk. Een van die kinders het haar ander seun, Deon (19), gaan roep.

Deon het Ronan gaan optel en sy wonde probeer toedruk. Sy sê Ronan het nie ‘n selfoon by hom gehad nie. Sy kan nie verstaan wat die rede vir die aanval op hom was nie.

Ronan is met veelvuldige beserings in die N1 Stad-hospitaal opgeneem waar hy Dinsdagaand ’n noodoperasie ondergaan het om onder meer ’n aar aan die agterkant van sy nek te herstel. Whitaker sê dis onseker of Ronan die volle gebruik van sy hande sal terugkry, aangesien dit ernstig beseer is toe hy probeer keer het.

Hy sal Donderdag ’n operasie aan albei sy hande ondergaan.

Kapt. Wayne Theunnis, woordvoerder van die Goodwood-polisie, het bevestig dat die vermeende aanvaller, ’n 31-jarige man, in hegtenis geneem is en Donderdag in die hof in Goodwood sal verskyn.


Enjoyed this post? Share it!