Shaun Abrahams hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag is gepos

‘n Volle regsbank van die hooggeregshof in Pretoria het Shaun Abrahams se aanstelling deur Jacob Zuma as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) tersyde gestel en beveel dat Ramaphosa ‘n nuwe direkteur binne 60 dae moet aanstel.

Die vorige hoof van NVG, Mxolisi Nxasana, moet die goue handdruk van R17 miljoen wat hy ontvang het, terug betaal.

Hierdie uitspraak is ‘n terugslag vir Zuma aangesien Abrahams Zuma tot dusver beskerm het rondom die 783 klagtes van bedrog en korrupsie teen hom.

Die hof het bevind dat iemand wat onder die wolk van aanklagte staan, nie ‘n aanstelling kan maak van ‘n persoon wat moet toesien dat reg en geregtigheid moet geskied nie.

VF Plus het die uitspraak as ‘n “ongekende stap” beskryf. Die party se hoofsweep, dr. Corné Mulder, sê regter Dunstan Mlambo se uitspraak Abrahams uit sy pos as nasionale direkteur van openbare vervolging verwyder het, is ʼn oorwinning vir geregtigheid aangesien sy aanstelling in die pos hoogs verdag was.

Dr. Mulder sê die regter se aanbeveling dat adjunkpresident Cyril Ramaphosa ʼn nuwe NDOV aanwys, skep die geleentheid om ʼn ervare en onbeskimmelde persoon aan te stel om te verseker dat die NVG weer vertroue by die publiek inboesem.

Hy sê dit sal verkeerd wees om weer die vorige direkteur, Mxolisi Nxasana, aan te stel aangesien daar allerweë aanvaar word dat pres. Zuma hom in 2015 met R17 miljoen omgekoop het om sy pos te ontruim.

“Hierdie is inderdaad goeie nuus wat positief ontvang sal word deur die publiek. Daar lê nou egter ʼn groot taak op die skouers van adjunkpresident Ramaphosa om te wys dat hy erns daarmee het om korrupsie te beveg deur die regte persoon aan te stel.

“Die VF Plus sou graag ʼn bekwame regsgeleerde soos die vorige Openbare Beskermer (OB) in die pos wou sien,” sê dr. Mulder.

Intussen het Zuma aangedui dat hy die uitspraak op appèl gaan neem. Waarskynlik sal sy verweer wees dat die hof met die uitspraak ingemeng het met die uitvoerende gesag van die land.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!