Sindikaat in Port Elizabeth munisipaliteit knoei dalk met huurkontrakte

Daar is vermoedens dat ’n moontlike bedrogsindikaat in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit (Port Elizabeth) doenig is nadat meer as 2 000 versteekte huurkontrakte oor die laaste twee maande opgespoor is.

Luidens ’n verslag wat Sondagoggend deur die DA uitgestuur is, het ’n span ondersoekers op sowat 2 100 versteekte munisipale huurkontrakte afgekom.

“ ’n Forensiese oudit van ’n klein deel van hierdie kontrakte het 11 gevalle van blatante korrupsie en diefstal blootgelê. Hierdie gevalle alleen het die munisipaliteit meer as R4 miljoen gekos – ’n bedrag wat elke maand styg,” lui die verklaring.

Die versteekte kontrakte kan die metro honderde miljoene rande per jaar laat verloor, lui die verklaring.

’n Forensiese oudit van ’n klein deel van hierdie kontrakte het 11 gevalle van blatante korrupsie en diefstal blootgelê.

Dié bevindings hou verband met onderverhuring, onreëlmatige verhuring, onwettige besetting sowel as die onreëlmatige toepassing van raadsbesluite.

“Sekere individue is betrokke by baie van die gevalle, ’n bewys daarvan dat dit moontlik ’n georganiseerde operasie soos ’n sindikaat kan wees.

“Met ’n opgedateerde huurregister sal die tweede fase van die ondersoek ’n algehele oudit van alle huurkontrakte wees.”

Die koalisieregering sal nie toegeeflik wees met die persone wat by onreëlmatighede betrek word nie, lui die verklaring.

“Openbare geld sal opgespoor word. Diegene wat daarvoor verantwoordelik is, sal afgedank word. Verdagtes sal ook aan die polisie oorgegee word.

“Korrupsie word nie meer in Nelson Mandelabaai geduld nie. Verandering is hier.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!