Sindikaat van Johannesburgse gevangenis smelt kragte saam met Vodacom ten opsigte van onwettige SIM-kaartomruilings

DIE VERSLAG WYS DUIDELIK DAT VODACOM VERANTWOORDELIK IS, MAAR HULLE WEIER STEEDS OM AANSPREEKLIKHEID VIR DIE BEDROG TE AANVAAR.

Van Vodacom se oproepsentrumpersoneel werk saam met ’n sindikaat “in die Johannesburgse gevangenis” om onwettige SIM-kaartomruilings te doen, het die selfoondiensverskaffer in ’n ondersoek bevind.

Die bevindings van die ondersoek het aan die lig gekom toe Vodacom per ongeluk die ondersoekverslag aan ’n kliënt, Sue Steyn, gestuur het wat op vergoeding aandring nadat R41 000 uit haar bankrekening gesteel is.
Vodacom se ondersoeker sê die SIM-ruiling is op 21 Augustus verlede jaar om 06:07 in die oproepsentrum gedoen.

Hy noem die naam van die agent wie se aanmeldbesonderhede gebruik is.
“Ons het vasgestel dat die agent se aanmeldnaam gesteel is en deur ’n ander oproepsentrumagent gebruik is.

“(Die agent se naam) het dit aan sy lynbestuurder en menslike hulpbronne erken. Ek het ook (die skelm agent) verbind aan ’n sindikaat wat vanuit die Johannesburg-tronk werk. Hy het saamgewerk met ’n vorige verdagte wat skuldig bevind is aan ’n bedrieglike SIM-omruiling.”

Rapport het verlede jaar berig daar is bewerings dat sindikate binne selfoonnetwerke en banke doenig is om internetbedrog te pleeg, ondanks die diensverskaffers se herhaaldelike bewerings dat dit die slagoffers se skuld is dat hul persoonlike inligting in skelms se hande beland het.

Vodacom het verlede jaar gesê hy kan nie daarop kommentaar lewer nie omdat sy ondersoek in ’n “sensitiewe” stadium is.

Die maatskappy het die afgelope week steeds nie kommentaar gelewer nie.
Al die selfoonnetwerke weier al maande lank om Rapport se vrae te beantwoord oor hoeveel werknemers al weens bedrog aan die pen gery het.

Steyn, ’n sakevrou van Johannesburg, sê sy het toevallig die ondersoekverslag onder oë gekry nadat sy aanvanklik net in mure vasgeloop het.

“Ek is raadop. Ek het Standard Bank, die bankombudsman, Vodacom en die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) genader en uiteindelik ’n prokureur gehuur om ’n eisbrief aan Vodacom te stuur, maar dit het niks gehelp nie,” sê sy.

Vodacom het haar R10 000 se vergoeding aangebied.

Sy is ontsteld omdat dié bedrag klaarblyklik arbitrêr is.

Rapport het verlede week berig Vodacom het R26 000 se vergoeding aan Wicus Pretorius, redakteur van Tuis, ná ’n SIM-omruiling aangebied.

Hy het uiteindelik nie ’n verlies gely nie omdat die R100 000 se bedrog met sy Absa-rekening omgekeer kon word.

Steyn weier om die R10 000 te aanvaar.

“Dit is vir my kommerwekkend dat Vodacom per ongeluk vir my die inligting gegee het en dit nooit gewillig aan my bekend gemaak het nie,” sê sy.

Rapport het ook vroeër berig hoe sommige kliënte in die hof beland om hul selfoondiensverskaffers en banke te dwing om vir hulle te sê wie met hul rekeninge gepeuter het.

“Die verslag wys duidelik dat Vodacom verantwoordelik is, maar hulle weier steeds om aanspreeklikheid vir die bedrog te aanvaar,” sê Steyn.

Byron Kennedy, Vodacom-woordvoerder, sê hul forensiese ondersoek toon dat hulle ’n waarskuwing-SMS oor die deaktivering van haar SIM-kaart vir Steyn gestuur het en dat die omruiling eers twee uur later gedoen is om haar genoeg tyd te gee om dit te bekragtig.

“Ons stuur ’n aantal SMS-waarskuwings aan ons kliënte oor die stappe wat hulle moet doen indien hulle nie so ’n diens aangevra het nie,” sê hy.
“Vodacom kan bevestig dat die oortreders in hierdie aangeleentheid aangekeer is.

“Ons het ’n toegewyde forensiese span wie se prioriteit dit is om ons kliënte teen enige onwettige aktiwiteite op ons netwerk te beskerm,” sê hy.
Volgens hom het die talle voorkomende maatreëls wat Vodacom die laaste paar jaar ingestel het tot ’n dalings in SIM-kaartbedrog gelei en dat so min soos 0,004% van SIM-ruiltransaksies op hul netwerk moontlik verband hou met bedrieglike aktiwiteite.

Die departement van korrektiewe dienste het nie op Rapport se navrae gereageer nie oor die sindikaat wat uit die Johannesburg-gevangenis bedryf word.

Bron:Netwerk24
Skrywer: Johan Eybers


Enjoyed this post? Share it!