Skok en afgryse ná informele nedersetting op begrafplaas ontstaan

Die CRL-kommissie (Commission for the Promotion and Protection of the Rights of Cultural, Religious and Linguistic Communities) het Donderdag gesê hulle het ʼn skokkende en ontstellende klag uit die Vaal naby Sharpeville ontvang van ʼn informele nedersetting wat glo bo-op ‘n begraafplaas ontstaan het.

Dié nedersetting word “Hlala kwa bafileyo” – isiZulu vir “om saam met dooies te lewe” – genoem.

Thoko Mkhwanazi Xaluva, voorsitter van die kommissie, het gesê dit is skokkend en totaal onaanvaarbaar vir enigiemand om hulself onwettig tuis te maak op ʼn begraafplaas.

“Nog iets wat ontnugterend is van dié situasie is dat die nedersetting ʼn crèche het waar die kinders rondom die grafte speel asof dit speelgoed is,” het Mkhwanazi Xaluva gesê.

Volgens haar het die kommissie verskeie betrokke munisipaliteite gekontak en hulle gedwing om die nedersetting te verwyder. Sy het glo ook aan hulle gesê om hulle aan ʼn spesifieke tydlyn te verbind waarbinne die kwessie opgelos moet word.


Enjoyed this post? Share it!