Skole gaan op in vlamme landswyd maar die LUR is woedend oor ‘n spotprent

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys was woedend oor die gebruik van die spotprent van Zuma wat in ‘n Engelse toetspapier verskyn het en het belowe om die skool te straf, om “onvanpaste vrae” aan leerlinge te vra.

Lesufi het Vrydag foto’s van die toets in sosiale media gedeel en hom ten sterkste teen die skool uitgespreek.

“Hoe durf jy skoolkinders in ’n klas dié vrae vra? Vergewe my, maar Maandag gaan ons beslissend optree teen die skool. Mag ek die ouers bedank wat dit onder ons aandag gebring het. Iemand gaan val, ons kan julle verseker!”

 In die spotprent deur die bekende kunstenaar Zapiro is Zuma in ’n baaibroek op ’n opblaasmatras terwyl hy met ’n drankie in die hand in ’n swembad vol geld dryf.

Leerlinge is eers gevra om die man (Zuma) in die spotprent te identifiseer, waarna hulle gevra is of hulle vir die man sal stem om president te wees en wat hulle glo sy werketiek is. Leerlinge moes die spotprent gebruik om hul antwoorde te staaf.

Oupa Bodibe, die LUR se woordvoerder, sê die ouers van die kind wie se toets in die foto’s verskyn, het die skool by die departement aangekla weens die “onvanpaste vrae” wat in die toets aan leerlinge gevra is. Hulle het gevra dat daar dringend ingegryp word.

“In dié stadium is ons nie in die posisie om die skool se naam bekend te maak nie. Ons neem dit ernstig op en het gevra dat die saak ondersoek word,” sê Bodibe.

Bron – Netwerk 24

Enjoyed this post? Share it!