Skoolreëls moet verander in die naam van eensydige transformasie

Hare skynbaar belangriker as verkragting, Plaasmoorde en die Voedelsekerheid wat in ons droogte geteisterde boere wat op hulle knieë is se hande is.

‘n Groot bohaai is weer eens aan die gang na sogenaamde rassisme by ‘n Engelse meisieskool in Pretoria.  Die bewerings gaan oor hare wat  “reguit-gemaak moet word’ of “afro-hare” wat korter gemaak moet word asook die “lelike” k- woord” wat na bewering gebruik is.

Die saak is so opgeblaas dat senior onderwys amptenare op die skool toegesak het, en die sosiale media ingespan is om die sogenaamde voorheen benadeeldes se belange te beskerm.

Terwyl hierdie saak hoë media-aandag trek, het ‘n ander gru-saak nie naastenby dieselfde aandag getrek nie.

‘n Noord- Natalse skoolhoof is in hegtenis geneem na bewerings van seksuele aanranding op ‘n skolier.   Dit volg na die seks-video van ‘n ander onderwyser wat in Nongoma gearresteer is.  Op die video word beweer dat hy met ‘n leerling omgang gehad het.

Die gebeure by die tradisionele swart skole haal nie naastenby dieselfde aandag as wat by voorheen blanke skole gebeur nie.  Die EFF het nou ook ingespring in die debakel en vra nou dat alle voormalige wit skole ondersoek moet word.

Intussen het twee skoolhoofde van Soweto hulle ondersteuning aan die meisieskool gegee, en gesê elke skool het reëls met betrekking tot hare, en dit behoort nagekom te word.

Bron: Vryburger

Artikel 2

Skoleherrie: Msimanga wil rassisme in Tshwane pak

“Hoekom gebruik jy nie jou hand nie? Dit is net so donker.”

Dit was glo die opmerking van ’n onderwyser toe ’n paar swart leerlinge ’n potlood by die onderwyser wou leen, het ’n leerling Maandag op ’n vergadering van leerlinge van Pretoria Girls High School, lede van die skoolbestuur, en Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, in die skool se klubhuis gesê.

Ander belanghebbendes, onder wie die EFF se tak by die Universiteit van Pretoria en die stad Tshwane, die ANC-jeugliga, en ouers van leerlinge het insette op die vergadering gelewer.

Solly Msimanga, Tshwane-burgemeester, het hom later by die vergadering aangesluit.

Die leerlinge het geëis dat die skool dissiplinêre stappe doen teen die onderwysers wat van rassisme beskuldig word, dat amptelik om verskoning gevra word en dat ’n verslag opgestel word oor wat Saterdag op die skoolterrein gebeur het.

Sekuriteitsbeamptes het gedreig om leerlinge in hegtenis te neem en leerlinge beweer die beamptes het honde en gewere by hulle gehad.

“Ek is trots, ewig trots, en ek is jammer dat in 2016, nadat ons deur apartheid gegaan het, julle weer deur hierdie diskriminasie moet gaan,” het Busi Mbukwane, ’n ouer van ’n leerling aan die skool, gesê.

EK IS JAMMER DAT IN 2016, NADAT ONS DEUR APARTHEID GEGAAN HET, JULLE WEER DEUR HIERDIE DISKRIMINASIE MOET GAAN.

Msimanga het gesê hy sal die Tshwane-metro se hulpbronne beskikbaar stel vir samesprekings om rassisme die hoof te bied.

“Ons het kennis tot ons beskikking wat strek van Unisa tot die WNNR tot Pretoria se universiteite wat ons kan inbring om die oplossing te formuleer.”

Lesufi het gesê die onderwysdepartement moet ingryp, want dis nie net “die pyn van hierdie skool nie”.

“Dis die pyn wat die meerderheid van ons leerlinge in die meerderheid van die skole deurgaan. Ons ingryping gaan nie net op hierdie skool fokus nie, ons gaan na probleme soos transformasie en verteenwoordiging in die studenteomgewing kyk.”

Lesufi gaan Maandagaand om 18:00 met die skool se beheerliggaam vergader.

ONS GAAN NA PROBLEME SOOS TRANSFORMASIE EN VERTEENWOORDIGING IN DIE STUDENTEOMGEWING KYK.

Panyaza Lesufi

Bron: Netwerk24

Artikel 3

Rasseherrie: die hare waai by PHSG

Deur Hannes Kruger 29 Augustus 2016 16:11

’n Gedissiplineerde leeromgewing is belangrik, maar die Pretoria High School for Girls (PHSG) se bestuur kan nie besluit oor “wat by hul skoolmeisies se kop uitgroei nie”, meen kenners.

Volgens Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), is die situasie by die PHSG onaanvaarbaar.

“ ’n Skool is veronderstel om leerlinge trots te laat voel oor hul kultuur en liggaam. ’n Groot deel van die leerproses is om mekaar te leer respekteer vir wie en wat julle is,” sê Maluleke.

Die PHSG is die jongste skool wat van beweerde rassisme beskuldig word.

Die hutswoord #StopRacismAtPretoriaGirlsHigh was Maandagoggend die gewildste op Twitter.

Leerlinge beweer daar is reëls wat sekere haarstyle, soos afro-style, rastalokke (dreadlocks) en vlegsels (cornrows) verbied.

MAAR HOE OP DEES AARDE KAN DIE SKOOLBESTUUR BESLUIT OOR WAT UIT DIE MEISIES SE KOP GROEI?

Maluleke sê hy verstaan dat ’n skool byvoorbeeld kan sê leerlinge moet ’n blou hemp in plaas van ’n rooi hemp aantrek.

“Maar hoe op dees aarde kan die skoolbestuur besluit oor wat uit die meisies se kop groei? Die skool moet ’n omgewing skep waar die leerlinge in harmonie kan saamleef en kan uitleef wie hulle is.”

Volgens Maluleke is leerlinge nie almal dieselfde nie en “hare groei natuurlik”.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê dit is belangrik om ’n gedissiplineerde leeromgewing te skep.

Volgens Colditz kan gehalte-onderrig slegs seëvier wanneer reëls en gedragskodes toegepas word.

“Gehalte-onderrig kan in die slag bly as daar nie reëls is nie.”

Hy sê dis belangrik vir beheerliggame om seker te maak die reëls is nie 20 jaar oud nie en is aangepas om in te pas by die hedendaagse wetgewing, gebruike en menings.

Hy sê daar is klagteprosedures wat die leerlinge kan volg as hulle ongelukkig is met die skoolreëls en gedragskode.

“Protesoptrede is nie nodig nie. Daar is minstens twee leerlinge wat in elke skool se beheerliggaam dien. Hulle behoort die leerlinge se belange op die hart te dra en aan die beheerliggaam te kommunikeer indien daar iets is wat die leerlinge ongelukkig maak.”

Volgens Colditz behoort die PHSG se beheerliggaam ná die voorval dringend na drie aspekte te kyk:

* Hoe die huidige gedragskode lyk en of dit onlangs aangepas is en ooreenstem met hedendaagse gebruike, wetgewing en menings;

* Hoe die huidige gedragskode toegepas is; en

* Stem die gedrag van die betrokke leerlinge en onderwysers ooreen met die gedragskode?

“ ’n Reël moenie net ’n reël wees omdat dit ’n reël is nie. Daar moet ’n baie spesifieke doel met die reël wees,” sê Colditz.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!